{ARGIEF}

Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Daar mag nog belangriker redes hiervoor wees: dat ons dink dit het te make met ‘n “hemelse” realiteit wat min of meer niks te make het met die realiteit waarin ons vandag lewe nie.

Coenie Burger se boek Waar is Jesus nou? het baie van ons gehelp om met ‘n nuwe perspektief oor Hemelvaart te dink. Coenie help ons om te verstaan dat Jesus veel nader aan ons daaglikse lewe is as wat ons ooit mag dink. Self nog meer fassinerend: dat met die Hemelvaart die menslike natuur nou ingeneem is in die lewe van die Drie-eenheid! (p 48)

agamdenDit mag vir ons selfs meer uitdagend wees om saam met die Psalm van die week te bely dat die Here Koning is, of soos wat ons in ons geloof bely, dat Christus sit aan die regterhand van God … vanwaar Hy sal kom om te oordeel.  Dirkie Smit het onlangs by ‘n konferensie ter viering van Coenie se bydrae die Italiaanse filosoof Agamden se werk bespreek. Giorgio Agamden (The Kingdom and the Glory) sê die Westerse samelewing is gebou op die veronderstelling dat die troon prakties gesproke leeg is, dat die magte oorgegee is aan die instellings en institute van ons samelewing. Die stoel is leeg, en dit is nou aan ons oorgelaat om die beste te maak van die lewe.  Psalm 93 praat ‘n ander taal, is onomwonde oor die Koningskap en die mag en die majesteit van God.

NT Wright noem dit is sy jongste boek: How God became King (2012), die vergete verhaal van die Evangelies. Indien Wright reg is, en ek dink hy is reg, is Hemelvaart ‘n dag met ‘n baie meer radikale boodskap as die liggaamlike hemelvaart van Christus. In die derde deel van sy boek verduidelik hy hoedat die Koningskap van Christus soos vergestalt in die Kruis die moontlikheid bied tot ‘n totale nuwe verstaan van lewens-orientasie en –sin.

Ek het ‘n vermoede dat die perspektief van die Koningskap van Christus, hoe moeilik dit ookal in ons moderne gemoed tuiskom, ‘n perspektief  is waarsonder ons moeilik hoop sal vind, want hoog bo die gedruis … troon die Here in sy koninklike mag (v4). Wright vra oa in sy boek of ons nie dikwels die evangelies gebruik om in te pas in ons raam van denke nie, en of die Koningskap van Christus nie eintlik van ons vra om ons raamwerk te ruil vir ‘n nuwe raamwerk nie, nl die raamwerk wat begin by die Opgestane Gekruisigde wat ook opgevaar het, en sit aan die regterhand van God van waar Hy sal kom om te oordeel.

Mag jy die week die genade ontvang om om die Koningskap van Christus so te verkondig dat dit vele wat twyfel mag help om hulle hoop op die aardse koningskappe te verruil vir die hoop wat daar is in die Koningskap van Christus.


SEISOEN VAN LUISTER POWERPOINT – (WORD)

psalm93Psalm 93 – Hemelvaart–Feesdiens – 17 Mei 2012
Dit bly moeilik om iemand op die regte manier aan ander mense voor te stel. Hulle moet ná die bekendstelling met die persoon wil assosieer, saamwerk, bevriend raak en selfs kan navolg. Die Here Jesus Christus word vandag nie deur ‘n “praise poet” of ‘n CV aan ons bekendgestel nie, maar deur Sy Hemelvaart. Dit is ‘n bevestiging dat Hy nie net Verlosser is nie, maar Here. Soos die OT God se heerskappy oor die hele skepping besing het, onder andere in Psalm 93, so besing die Hemelvaart Jesus Christus se heerskappy aan die regterkant van die Vader. Vanuit dié bewussyn kan ons uit Sy oorwinning en heerskappy hier en nou leef! Ons kan ons met Hom assosieer, met Hom saamwerk as ons Vriend, en Hom navolg. Dit alles, terwyl ons ook ons hoop plaas op die finale oorwinning wat Hy vir ons voorberei met Sy Wederkoms.