{ARGIEF}

Psalm 97 vir Kersfees 2010 – 25 Desember

Die Here het verskyn!

Ek gaan nie ‘n nuwe jaar met ou probleme begin nie, sê ek nou die dag vir iemand. Daar is probleme en wrokke en nog ‘n paar goed wat ‘n mens agter jou moet kry. En teen Kersfees moet jy al kan feesvier dat al daai goed wat aan ‘n mens hang en jou lewe versuur, nou aan ‘n vorige tydperk in jou lewe behoort.

En dis hoekom ‘n mens Psalm 97 met Kersfees moet lees en vir mekaar in die kerk daarvan moet vertel. Want dit gaan oor iets wat gebeur het – en die verlede en die toekoms daarmee saam verander het.

Die Here het verskyn.

Psalm 97 was deel van die liturgie wanneer Israel voor die tempel gestaan het – en gewag het dat die Here moet verskyn.

Dis soos ons. Wanneer ons ‘n leier moet kies, kies ons iemand met “presence”. Dikwels stel ek iemand voor om leiding iewers te neem, en dan sê die ander mense, ja, hy het ‘n “presence”, of hulle sê, nee, hy sal nie ‘n impak op mense maak nie.

Maar die Here het ‘n “presence”, ‘n teenwoordigheid. Die mense wat voor die tempel gestaan en wag het dat Hy moet verskyn, het geweet hy is daar. Hulle het sy teenwoordigheid gevoel, al het hulle Hom nie gesien nie.

Die Here was daar.

Dit was soos weerligstrale en donderweer. Soos berge wat smelt en ‘n vuur wat rokend versprei.
Almal het geweet:  Die Here het verskyn. Hy was daar.

En daarom lees ons hierdie Psalm 97 weer met Kersfees. Want met Kersfees onthou ons weer: Die Here het verskyn. Jesus is gebore. En ons is almal van Sy teenwoordigheid bewus.

Psalm 97 bestaan uit twee dele. Die eerste deel, verse 1-7, vertel van God se verskyning, en die tweede deel, verse 8-12, beskryf die effekte van sy verskyning, wat gebeur wanneer God verskyn.

Wanneer God verskyn, sê die eerste paar verse, weet almal dit. Die natuur weet dit, want die eilande juig, en die wolke, weerlig en berge bevestig dit; die hemele verkondig dit. Selfs die ongelowiges wat beelde aanbid, besef dat die ware God nou verskyn het. So sterk is God se teenwoordigheid.

En wat is die effekte daarvan dat God verskyn?  Aaaa, hier is die pragtige deel van die Psalm. Watter verskil maak dit dat God Homself aan die mensdom toon?
Waar God is, is daar veiligheid (vers 10b) want Hy bewaar ons van die pyn wat ander mense ons liggame kan aandoen. En daar is wysheid (vers 10c), want God red ons van die onnoselheid van goddeloos wees.

God se verskyning beteken vir ons lig (vers 11a) en blydskap (vers 11b)!  
Nou, lig vir die Israeliete was nie sommer so ‘n dingetjie nie. Onthou ons praat van tye toe daar nie elektrisiteit was nie. En die huisies was klein en donker – onthou die vrou wat so na haar geldstuk in die middel van die dag gesoek het en daarvoor ‘n lamp moes opsteek?  En daar was ook nie glas en vensters soos ons dit vandag ken nie.
Maar God bring lig wanneer Hy verskyn. En Hy bring blydskap. Die Ortodokse Jode vandag lyk altyd vir my ‘n bietjie streng en stuurs, maar ‘n mens kan jou verwonder aan hoe die gewone Jode kan feesvier. Hulle dans en sing wanneer hulle bymekaar is, iets wonderliks. Ek dink hulle het dit by God self geleer.

En nou met Kersfees vier ons dit dat God verskyn het – as ‘n mens. Die God van Psalm 97 het weer verskyn. Met Kersfees verskyn die Koning in sy menslike gesig.
Jesus het vir ons kom wys hoe kan ‘n mens as ‘n koning lewe. Nie soos wat ons konings gewoonlik ken, wat despote en uitbuiters is en hulle eie mag ten koste van alles wil behou nie.

Kom ons kyk ‘n bietjie hoe lyk die Koning van Psalm 97, en hoe Hy as mens gebore is om ‘n koning tussen ons te wees, en ons te leer om self as konings met hierdie waardes te lewe.

  1. Die Here is ‘n Koning wat die slegte haat (vers 10a) en dieselfde van Sy volgelinge verwag. Hy is regverdig. Reg en geregtigheid is waarvoor Hy staan. En het Jesus nie hierdie waardes kom uitleef nie!  Hoe het hy nie op die korrupsie van sy tyd gewys nie?  Hoe het hy nie die Romeine en die Joodse leiers gekritiseer daaroor dat hulle die mense uitbuit nie?    Hoe het hy nie eindelose gelykenisse vertel waarin Hy die siek hunkering van mense om mag oor ander uit te oefen, blootgelê het nie?  Met Jesus het God kom wys dat ‘n mens regverdig kan lewe. Watse uitnodiging is dit nie met Kersfees vir ons nie!  Met Kersfees kan ons dit vier:  Jesus het vir ons kom wys:  ons kan regverdig lewe.
  2. Die Here is ‘n koning wat die lewe van sy mense bewaar (vers 10b). Nou, dis ‘n verrassende soort koning!  Die meeste mense van die outyd het ‘n koning geken wat sy troepe sou uitstuur na hulle dood sonder om ‘n oog te knip. Hy het van hulle verwag om hulle lewens vir hom te gee. Maar ons Here verskyn aan ons, en Hy verskyn as een wat ons lewens wil bewaar. Die lewe is vir Hom kosbaar. Soveel so bewaar Hy ons lewens, dat Hy in Jesus Christus vir ons die ewige lewe gegee het. En ook dit kan ons met Kersfees vier. Ons lewe is vir God belangrik, ons dood is vir God belangrik. En dit het die Koning ook bewys toe Hy as mens gebore is:  hoe Jesus omgegee het vir mense se pyn, vir hulle verliese  – en hoe hy selfs vir hulle omgegee het wanneer hulle honger was.
  3. Die Here is ‘n Koning wat mense red uit die greep van goddeloosheid (verse 10c). God wil ons wys maak. Hy wil hê ons moet die wysheid hê wat gepaardgaan met geloof. Omdat ons glo dat ons meer is as net liggame, kan ons sterk en wys wees. Omdat ons glo dat mense goed kan wees, en omgee vir mekaar, kan ons ook so wees. Toe God as Jesus gebore is, het die Koninkryk van God hier op aarde aangebreek. En dit het ons verlos. Dit het ons gered van moedeloos en hopeloos wees. Dit het ons gered van passief wees. Dit het ons gered van dom wees en net vir onsself lewe.
  4. Die Here is ‘n Koning wat wil hê dat ons fees moet vier (verse 11 en 12). Dat ons lewe so moet wees dat dit voel of die son altyd skyn. Gelukkig en in die lig. Vrolik en helder. So wil ons Koning hê moet ons lewens wees.

Vandag is dit Kersfees. God het mens geword en onder ons kom woon. Soos in Psalm 97 het Hy aan ons verskyn. En vandag kan en moet ons daaroor feesvier:  want God se verskyning in Jesus het ‘n verskil gemaak, ‘n enorme verskil. Dit het die geskiedenis van die mensdom verander. Dit het redding en veiligheid, en lig en blydskap, en reg en geregtigheid gebring.

Vandag kan ons dit vier. En hierdie waardes saam met ons die nuwe jaar indra:  gered wees, in die lig lewe, positief wees, uitreik na ander, liefwees vir God.
Ons en God is beelde van mekaar. God het ons na Sy beeld geskape (Gen 1:27). Met Kersfees is God weer na ons beeld gebore, om ons te wys hoe om waarlik mens te wees. Hoe om in reg en geregtigheid, in wysheid en lig, en in blydskap te lewe.

Sodat ons nie ‘n nuwe jaar met ou probleme hoef in te gaan nie.

Christina Landman

Seisoen van Luister Powerpoint

HIERDIE IS DIE LAASTE AKTUALISERING VIR 2010. DIE SPAN GAAN 3 WEKE RUS EN SAL IN 2011 VOORTGAAN MET DIE WEEKLIKSE AKTUALISERING VAN DIE FOKUSTEKS.

n Geseënde Kerstyd aan al ons skrywers en lesers.Mag dit vir ieder en elk ‘n ware Christusfees wees.

Soos Christina skryf: Die Here is ‘n Koning wat wil hê dat ons fees moet vier. Dat ons lewe so moet wees dat dit voel of die son altyd skyn. Gelukkig en in die lig. Vrolik en helder. So wil ons Koning hê moet ons lewens wees.

Ons volgende aktualisering sal weer die week van 10 Jan 2011 beskikbaar sal wees. As enigiemand enige voorstel rakende ons blog het, kan hulle gerus van hulle laat hoor.