{ARGIEF}

6 Maart 2011 ~ Sondag van die verheerliking ~ God is heilig: Psalm 99

Hulle vertel die grappie van die twee mans wat met mekaar sit en gesels, en die een vra vir die ander:  “Preek julle dominee nou ook al met power point?”  “Ja,” antwoord die ander, “hy het nou al power maar nog steeds nie ‘n punt nie!”

Maar hierdie preek het ‘n punt.  En die punt daarvan is dat God heilig is.
Nou sal julle sê, maar dit weet ons nou al ‘n rukkie, hoor!  Dis omtrent die eerste ding wat ons oor God geleer is.  Hy is heilig.  Hy is anders.  Hy laat nie met Hom spot nie.

Maar kyk ons nou na Ps 99, dan sien ons God se heiligheid beteken nie verweg-wees, of eenkant-wees nie.  God is nie die Een wat daar hoog bo sit en loer of ons iets onheiligs doen, sodat hy uit meerderwaardigheid ‘n hou kan toedien nie.
Ons leer drie gesigte van God se heiligheid in Psalm 99 ken, en al drie is sulke wonderlike nuus.  Al drie bring ons en God nader aan mekaar.  Al drie klop by ons aan om hierdie dinge ‘n bietjie by God te leer.

In die eerste plek beteken God se heiligheid in Psalm 99 dat Hy die reg liefhet.  God haat dit as mense mekaar bykom, jy weet, soos in sleg sê en verneder.  God haat dit as iemand oor ‘n ander een baasspeel en hom of haar verneder, net omdat hy kan.  Dit is nie reg nie.  Dit is onheilig. 
In die tweede plek luister God.  God het ‘n geskiedenis dat Hy luister wanneer mense Hom aanroep.  Toe Moses en Aäron tot Hom gebid het, het Hy geluister.  En dieselfde met Samuel.  Nee, God is die Een wat luister.  Hy is betroubaar.  Jy weet as jy met Hom praat, sal Hy luister.  Só heilig is God, dat Hy absoluut betroubaar is.

Maar God is nog op ‘n derde manier heilig.  Hy vergewe ons.  Ons verhouding met Hom is vir God belangrik.  Hy het ‘n heilige verhouding met ons.  Dit beteken nie dat Hy Hom van ons afsonder nie.  Inteendeel, dit beteken dat Hy juis baie by ons betrokke is.  Hy stap die hele pad saam met ons.

Maar nou sal julle vra:  Hoekom moet ons vandag juis oor God se heiligheid praat?  Is daar iets wat ons spesiaal daaraan herinner?
Ja, vandag is Verheerlikingsondag.  En wat sou dit wees, vra ‘n paar van julle terwyl julle voel hier sak dalk iets volksvreemds op ons toe.
In die kerkjaar – dit is, in die Protestantse liturgiese jaar – val Verheerlikingsondag op die Sondag voordat die Lydenstyd begin.  Volgende Sondag is die eerste Sondag in Lydenstyd.  En dan is dit elke Sondag ‘n lydingsondag totdat ons oor sewe weke Paassondag kry.  Dan het die Here opgestaan, en sy verskriklike lyding is verby.

Maar eers is dit hierdie Sondag, Verheerlikingsondag.  Daarvoor moet ons na Matteus 17:1-8 gaan, waar Jesus op die berg verheerlik is.  Jesus het sy drie dissipels, Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom na ‘n hoë berg geneem.  “Daar het sy voorkoms voor hulle verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy kere het wit geword soos die lig.”  Moses en Elia het verskyn, en met Jesus gepraat.  En toe het ‘n stem uit die wolk gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug…”

Dominees preek nie dikwels oor Matteus en Jesus se verheerliking nie.  Want dit klink alles vir ons vandag ‘n bietjie te onrealisties.  Maar eintlik word daar maar net hier beskrywe dat die dissipels besef het:  Jesus is heilig.  Jesus is heilig soos God.  Jesus is God.
Maar wat het Psalm 99 en Jesus se verheerliking (Matt 17:1-8) nou met mekaar te doen?  En hoe laat ons nou hierdie tekste in ons lewens land vandag?  In Matteus sien die dissipels dat Jesus heilig is as God.  En uiteindelik, in die lewe van Jesus, sien ons dat Jesus vir ons kom wys het hoe ons heilig kan lewe soos God dit bedoel het, daar in Psalm 99 al.

God is heilig want Hy is lief vir die reg.  Jesus het die verskoptes en verstotenes hier op aarde heilig behandel.  En ons moet dit ook doen.  As ons die reg liefhet, leef ons heilig.

God is heilig, want Hy luister na ons node en behoeftes, en is betroubaar.  Jesus het geluister na mense wat bitter swaar gekry het.  Hy het vir hulle gesterf en opgestaan.  Hy was betroubaar.

God is heilig, en sy verhouding met ons is vir Hom belangrik.  Jesus het vir ons kom leer hoe om medemens vir mekaar te wees.  Nou dit is wat ons ook moet doen om heilig met mekaar te lewe.

Kom ons kyk net ‘n bietjie dieper na een van hierdie drie heilige dinge wat ons by God leer:  betroubaarheid.

Wat beteken dit in vandag se dae om betroubaar te wees?  Dis nie so moeilik nie.  Ons weet dit almal.  Maar miskien moet ons dit weer vir onsself en mekaar sê.  En miskien het ons vergeet om dit vir ons kinders en jongmense te sê.  Dan is dit tyd om dit weer op te noem.
Eerstens beteken betroubaarheid om eerlik te wees.  Gewoon dit:  om nie te jok, iemand te verneuk of te besteel nie.  Dus, om lief te wees vir dit wat reg is volgens die wet.

Tweedens beteken betroubaarheid dat mense op jou kan reken, en op jou kan leun.  Dit beteken gewoon om jou beloftes te hou en deur te voer wat jy belowe het.

Derdens beteken betroubaarheid om ‘n goeie vriend te wees.  Belê in jou verhoudings.  En vertroue is die grondslag van verhoudings.  Vertroue is eintlik alles.  As jy die vertroue in jou verhouding met iemand verbreek het, kan daar eintlik nie meer ‘n verhouding wees nie.

Mag julle op hierdie Verheerlikingsondag weer dink aan die heerlikheid dat God heilig is.  En dat Jesus ons kom leer het hoe om heilig te lewe.  En mag jyself besluit om ook heilig te lewe, dit is, om die regte ding te doen teenoor ander, om betroubaar te wees, en om jou verhouding met God en jou medemens bo alles te stel.

Christina Landman

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere preekriglyne in argief