{ARGIEF}

Sondag 15 Julie 2012 ~ Sewende Sondag in Koninkrykstyd: Mark 6:14-29

Hierdie gedeelte pas in die middel van Markus se vertelling van die uitstuur van die 12 (Mark 6:7-13) en hul terugkeer 6:30-34). Hieruit kan ons die afleiding maak dat hy pertinent die aandag wou vestig op die gewigtige implikasies van beide Jesus se sending, asook dié van sy dissipels.

Navolging van Jesus het ernstige gevolge

Die ernstige gevolge wat die lewe in die vestiging van die nuwe koninkryk vir Johannes die Doper, Jesus se dissipels en ook Jesus self ingehou het, bring die ontsettende belangrikheid van Markus se boodskap hier op die voorgrond.
Daar is nie ‘n kostelose weergawe van navolging  nie (Verwys na The cost of discipleship van Bonhoeffer).

Wat maak hierdie besef egter problematies?

1.) Dit raak problematies wanneer Christene se navolging van Jesus geskied op ‘n arrogante en venynige wyse. Dit gebeur dat Christene in hierdie soort van verdediging van die Christelike geloof dikwels op dieselfde manier optree as ‘n liefdelose wêreld, d.i. deur mense aan te val (soms selfs fisies), te beskaam, te beledig en te veroordeel. Op sosiale webblaaie, soos Facebook en Twitter lees ons hoe Christene soms hulle eie standpunte verdedig deur hiper-krities te raak teenoor diegene wat van hulle sou verskil. Dan is daar natuurlik nog die tragiese voorbeelde van Christene wat in die naam van die Christelike geloof en Jesus nie-gelowiges verwerp, selfs moord pleeg.

Navolging van Jesus vandag het baie kante en ons kan mekaar help deur gereeld hieroor na te dink en wysheid in hierdie verband te soek. Soms vra die omstandighede van ons om sterk standpunt in te neem, deur ‘n stem te laat hoor, deur profeties op te tree. Die gevaar is egter ook daar dat Christene verval in ‘n leefstyl waarin hulle net die Christelike oortuigings wil beskerm, in stede daarvan om die roeping van Jesus, naamlik om in alle opsigte nuut te leef, te gehoorsaam.

Daar is plekke in die wêreld waar mense fisies ly, gemartel en vermoor word vir hulle geloof – hoe raak dit ons?
Wat is die prys wat vandag van ons gevra word? Dink hier pertinent na aan jou eie konteks, omgewing?
Waar pas die nuwe debat oor die religieuse vakansiedae in? Hier is dit veral van belang om weer te gaan kyk na die steil waarin die standpunte of geloofsoortuigings beredeneer en verdedig word.

2.) Die ernstige implikasies van egte navolging kan ook daartoe lei dat mense geloof privatiseer, dit beperk “slegs vir huishoudelike gebruik”. Ons vermy konflik en strydgesprekke. “Private navolgers”, of “geheime agente”, soos hulle dikwels genoem word doen nie eintlik moeite om vir hulleself uit te maak wat dit is wat hulle glo en waarmee hulle besig is nie. Dit is genoeg om te weet dat Jesus my liefhet en ek eendag by Hom gaan wees. Is dit navolging? Hierdie “stille navolging” geskied soms uit vrees vir vervolging of kritiek, of omdat mense nie regtig hulle geloof kan verduidelik onder teenstand nie. So ‘n navolging is baie duidelik ongehoorsaamheid aan die volle roeping van Jesus.

Jampie Nel