{ARGIEF}

Net so verbaas soos die Israeliete was oor die brood uit die hemel (Eks 16), so is sommige vandag nog verbaas oor die mikro-gesprekke van Twitter.  Dit is nou as mense enigsins weet van die bestaan van Twitter, darem al sedert 2006 met ons (Jack Dorsey)!  En waar die vraag van die Israeliete, “Wat is dit dié?” , of in Hebreeus, “manna?”, die naam geword het van dié brood, is tweets die naam van die 140 karakter gesprekke op Twitter.

In ‘n uitstekende artikel in Time (15 Junie 2009), How Twitter Will Change the way we live (in 140 characters or less), deur Steven Johnson spel hy uit hoe dié gier in ‘n kragtige vorm van kommunikasie ontwikkel het.  Dit is nou benewens die “ambient awareness” wat dit tot gevolg het, waar jy ‘n kykie in ander se daagliks roetines kry.  Dit is amper soos die “Hoe gaan dit? ” gesprekke wat ons oor die telefoon het, sonder dat jy eers die telefoon hoef op te tel.

Konferensies begin die waarde van ‘n dialoog op Twitter besef, deur lewendige kommentaar oor die konferensie op ‘n skerm te flits, terwyl ‘n referaat gelewer word.

  1. In die eerste plek is die waarde daarvan dat dit lei tot kort opsommings van die inhoud van die spreker se referaat en skakels na ander inligting wat verband hou daarmee.  Dit is nou behalwe die ligte grappies so nou en dan!
  2. Maar die eintlike waarde lê in die tweede plek, dat die ervaring leer dat jy baie gou eintlik ‘n groter gehoor in die konferensie saal innooi. Mense van buite, van oor die hele wêreld, kan die gesprek dophou op Twitter en self begin deelneem aan die dialoog wat op dié manier ontstaan (gaan kyk na #hackedu op Twitter vir ‘n voorbeeld). Dit is met een woord ‘n innoverende transformasie van tegnologie wat ons monologiese debatvoering verander in egte dialoog!

Dit beteken dat die gesprek in ‘n konferensie fundamenteel verander word deur ‘n tweede vlak van kommunikasie by te voeg, van wat andersins ‘n private gesprek sou wees.  En benewens die feit dat dié gesprek na die tyd voortgesit kan word, beteken dit dat ‘n konferensie gesprek ‘n ware publieke gesprek word.  Soos Steven dit pragtig sê: “the sum total of those tweets added up to something truly substantive, like a suspension bridge made of pebbles.”

Waar Google ‘n mens help om oor tyd die beste inligting te bekom, deurdat bladsye hoër en hoër geplaas word deur te kyk hoeveel ander bladsye daaraan verbind is, gee Twitter jou die “super fresh Web”.  Dit gaan nie hier oor wat mense gesê hét nie, maar wat hulle NÓÚ sê!

Deur eenvoudig ‘n gesprek ‘n naam te gee, bv. #Handelinge, en die frase in ‘n tweet in te sluit, kan ander Twitter gebruikers alle tweets soek wat #Handelinge ingesluit het, en die gesprek volg en bydraes maak (dit sou kon verwys na die vorige Handelinge konferensie by Communitas in Mei 2009 …).  En so gaan ‘n publieke gesprek oop wat eintlik op geen ander manier so vars en direk oor alle grense heen gevoer kan word nie.

  1. Twitter kan die manier waarop ons nuus lees verander.  Deur in te skakel op jou sosiale netwerk se kommentaar op gebeure van die dag, word ‘n doelgemaakte nuusblad vir jou geskep.
  2. Twittter kan die manier waarop geadverteer word verander.  Deur te soek vir produkte of aanbiedinge deur jou sosiale netwerk kan jou moontlik vinniger uitbring by relevante inligting.  Besighede sal heel moontlik ‘n kopskuif moet maak om ‘n miljoen of so followers te kry, vir wie vars inligting so versprei kan word.

Uiteraard is die gevaar van enige sosiale netwerk dat jy so opgaan in die digitale gemeenskap daarvan, dat jy die fisiese gemeenskap van die mense wat by jou is, jou naaste, kan afskeep.  Maar dit is waar van enige tegnologie.  Die gebruik vir ‘n publieke gesprek en vir die verkryging van vars inligting is ‘n innoverende verryking van ons lewens.

Is Tweets vandag se publieke manna … of wat praat ek alles?!

@chrisvanwyk