{ARGIEF}

VBO: Vrae en Antwoorde

 
1.  Wat is VBO?
VBO staan vir “Voortgesette Bedieningsontwikkeling” 

2.  Is VBO verpligtend?
Ja.  Die Algemene Sinode het in Junie 2007 ’n sterk besluit oor Voortgesette Bedienings-opleiding geneem. 
Die besluit het twee wesenlike punte: dit maak VBO verpligtend en afdwingbaar vir alle predikante, maar bepaal ook dat die sisteem en inhoud van VBO voortdurend met predikante onderhandel moet word. 

3.  Waarom is VBO nodig?
Dit is in sowel die gemeentes as die predikante se belang dat predikante verbind is tot lewenslange leer.  Feitlik alle professionele beroepe het reeds lewenslange leer verpligtend gemaak tot op die vlak dat mense hul registrasie kan verloor as hulle nie bly leer nie.

4.  Wat is VBO se kernwaardes?
VBO gaan oor die verdieping van ons kennis en insig in die waarheid van die evangelie, ons ingesteldheid teenoor ons roeping en ons werk en oor die slyping van ons bedieningsvaardighede. Maar dit gaan veral ook oor konstante leerbaarheid en oor die moed om in nuwe situasies in te gaan met die vertroue dat die Here ons kan leer en ’n weg kan wys wat ons nie vooraf helder gesien het nie.  Die kernwaardes van VBO kan as volg opgesom word:

• Die voortgesette verdieping van ons kennis, insig en geloof in die evangelie.
• Die bevordering van geestelike groei, roepingsverdieping en persoonsontwikkeling.
• Slyping van bedieningsvaardighede vir missionêre gemeentes in diens van die koninkryk vandag. 
• Om getrou aan ons gereformeerde tradisie, te bly slyp aan ons vermoë om teologies te onderskei.
• Die behoud en bevordering van bedieningsvreugde en bedieningsmoed.

5.  Hoe werk die punte-sisteem?
Wes- en Suid-Kaapland kan nie op sy eie besluit oor punte of krediete ten opsigte van VBO neem nie. Die vier jaar tussen die sinodesittings is ’n implementeringstyd, waartydens die proses verfyn sal word.  Op hierdie stadium kan ons die volgende reëlings ten opsigte van Wes- en Suid-Kaapland deurgee:

  1. Vir die oomblik vra ons dat predikante self verantwoordelikheid neem om rekord te hou van hulle VBO-kursusse.  VBO sal by amptelike VBO-kursusse ’n sertifikaat van bywoning uitreik (of vra dit aan by Chrisna van der Merwe).  Hou dit en enige ander rings- of ander opleidingsgeleentheid se besonderhede in ’n lêer/houer.  Predikante word aangemoedig om ook notas oor teologiese boeke gelees, studiegroepe of ander aktiwiteite wat hy/sy reken ’n VBO-krediet werd is, in hierdie lêer/houer aan te teken. 
  2. Van die gedagtes is dat ’n opsomming van hierdie gegewens aan die Kerkraad voorgelê word en dat dit aan die hand van die predikant se “bewyse” geoudit word en aan die Ring voorgelê word.  Ander elektroniese stelsels word ook nog deur die Algemene Sinode ondersoek. Hou dus maar net intussen self bewyse van alle VBO-krediete.
  3. Van predikante word verwag om 50 krediete per jaar te verwerf. VBO deel dit in twee komponente: 
    30 krediete word vir ’n drie-dag VBO-kursus gegee. Hierdie 30 krediete kan slegs verwerf word deur so ’n amptelike VBO-kursus by te woon. Dit is wel moontlik dat sommige kursusse van ander kerke/instansies later van tyd deur VBO geakkrediteer kan word.
     20 krediete word verdien deur enige ander vorm van toerusting: ’n VBO-dagkonferensie, Verantwoordelike Vernuwing, Teologiese Dag van die Kweekskool, ensovoorts. Die waarde is een krediet per uur. Ander kerke se kursusse en seminare is ook hierby ingesluit.
  4. Kontak gerus die VBO-kantoor vir meer besonderhede. 
     (Sien paragraaf 14 hier onder)

6.  Watter ander opsies is daar? 
VBO kyk na verskeie ander opsies:

  • mense kan krediete kry vir formele verdere studie (M- en D-grade);
  • ons wil die vorming van studiegroepe (in die wêreld van volwasse-leer word gepraat van “communities of learning”) aanmoedig as ’n moontlike tweede baan waarop VBO-krediete verdien kan word;
  • inskakeling by ’n mentoraatsprogram kwalifiseer nou al reeds vir 10 krediete, en
  • mense verdien ook punte vir die aanbieding van sekere kursusse.

7.  Is VBO-punte oordraagbaar?
Predikante is welkom om meer as een drie-dag kursus per jaar te doen.  Punte kan dus, binne perke, na ’n volgende jaar oorgedra word.  Die bedoeling van lewenslange leer is egter juis dat daar deurlopend leer sal plaasvind.

8.  Wanneer word watter kursusse aangebied?
Sien die kursuslys vir volle besonderhede of kontak die VBO-kantoor. 
VBO se webblad is via Communitas beskikbaar:  www.communitas.co.za

9.  Wie reël die verblyf?
Predikante reël hulle eie verblyf. Waar ’n predikant geen eie verblyf kan reël nie, kan Communitas geskakel word.  Ons kan moontlik verblyf reël by ’n plaaslike gemeente se gasvryheidsbediening.  Die Sinode betaal nié gastehuise of hotelle se koste nie. 

Communitas kan u ook verwys na plekke wat spesiale oornagtariewe aan VBO-gangers aanbied. Kontak dus vir Chrisna van der Merwe as u enigsins sukkel met verblyfreëlings.

10.  Wat kos die VBO?
Die Sinode van Wes- en Suid-Kaapland se aanbeveling is dat gemeentes jaarliks R1 000 per predikant tot die VBO-fonds sal bydrae.  Die versoek is dat dit Maart (aan die begin van die finansiële jaar) aan die Saakgelastigde in Bellville gestuur sal word.

Kursusgangers betaal in 2008/9 net R100,00 per drie-dag kursus vir VBO.  Middagetes en kursusmateriaal is ingesluit by die R100,00 kursusfooi. Omdat ons die kursusse bekostigbaar wil maak – ook vir mense wat ver is – sal ons, sover ons kan, wil help met ’n brandstofsubsidie. Sien Paragraaf 13 hier onder vir besonderhede oor die brandstof-subsidie.

11. Wat van lidmate of kollegas van ander kerkgenootskappe ?
Lidmate, veral gemeenteleiers, is regtig welkom om vir ’n kursus in te skryf – so ook kollegas van ander kerkgenootskappe. Die ooreenkoms is egter dat mense wat nie predikante in die NG- of VGK Kerk is nie (vir wie VBO verpligtend is en via gemeentes gesubsidieer word), vir die werklike koste sal moet betaal. 

Predikante uit ander sinodale gebiede sal ook moet betaal.  Skakel vir Chrisna van der Merwe vir besonder¬hede ten opsigte van die koste.  Vir ’n drie-dag kursus beloop die koste sowat R600,00 (losies uitgesluit).  Reis¬koste of ’n brandstofsubsidie word ook nie betaal nie.  Die lidmaat/kollega is natuurlik welkom om gratis saam met die predikant te reis.

12. Verlofreëlings
Predikante word versoek om hulle VBO in oorleg met die Kerkraad te beplan. Die bywoon van ’n VBO-kursus word normaalweg nie as verlof gereken nie. 

13.  Brandstofsubsidie
VBO is bereid om ’n deel van die predikant se brandstofkoste te subsidieer. Dit is ’n groot persentasie van VBO se koste en lei ongelukkig tot ongemaklikheid.  Let dus asseblief op die volgende riglyn:

  • VBO betaal nié reiskoste nie! Ons gee wel in bepaalde gevalle ’n brandstofsubsidie.
  • Die brandstofsubsidie is slegs vir predikante vir wie VBO verpligtend is én wat in die Sinodale gebied van Wes- en Suid-Kaapland in diens is. Emeriti of proponente (wat nie in ’n gemeente werksaam is en vir wie die R1 000 [Sien paragraaf 10 hier bo] nie betaal is nie, kan dus nie op ’n brandstofsubsidie aanspraak maak nie. Vir dienende VGK-leraars geld die Sinodale gebied van Kaapland. Kerkraadslede, lidmate of predikante uit ander kerke of sinodale streke kom nie in aanmerking vir ’n brandstofsubsidie nie.
  • Die aanbod vir ’n brandstofsubsidie word ook slegs gerig aan predikante wie se tuisgemeente verder as 80 kilometer (enkel rit) vanaf die kursusplek is. ’n Aantal voorbeelde – gegrond of werklike probleme wat VBO ervaar, maar die name is gewysig om verleentheid te voorkom:
    VOORBEELD 1: ’n Predikant van Wellington wat ’n kursus in Stellenbosch doen, maar saans by die huis gaan slaap, sal in totaal meer as 200 kilometer ry, maar sal nie kan aanspraak maak op ’n brandstofsubsidie nie, want Wellington is nader as 80 kilometer aan Stellenbosch.  
  • ’n Brandstofsubsidie van R1,00 (een rand) per kilometer word betaal. “Kilometers” verwys na die afstand (heen en terug) tussen die predikant se tuisgemeente en die plek waar die kursus aangebied word.   
    VOORBEELD 2:  ’n Predikant van Caledon wat via Worcester na Stellenbosch ry, kan slegs vir die direkte afstand tussen Stellenbosch en Caledon eis – nie vir die draai om vroulief by die skoonouers in Caledon te gaan aflaai nie!
    VOORBEELD 3:  ’n Predikant van George reël eie verblyf by familie in Vishoek.  VBO kan nie vir al die ritte tussen Stellenbosch en Vishoek betaal nie. VBO subsidieer slegs die afstand tussen die tuisgemeente en die kursusplek en behou die reg om self die afstand (AA-padkaart) tussen die tuisgemeente en die kursusplek te bereken.
  • Predikante word versoek om so ver as enigsins moontlik saam te reis.  
  • Aangesien VBO van ’n “brandstof¬subsidie” praat, en nie van ’n “reiskoste formule” nie, is dit uiteraard moontlik om buitengewone omstandighede met Chrisna van der Merwe te bespreek.  Doen dit vooraf, sodat daar nie uiteindelik ’n verleentheid is oor die saak nie!
     

14.  Wie kan ek kontak vir meer inligting?
 Skakel Chrisna van der Merwe by Communitas (VBO)

Telefoon:   021-808-3624
Faks:   021-886-5701
E-pos:   cmer@sun.ac.za
Webwerf: www.communitas.co.za
Posadres:   Posbus 3322, Matieland, 7602
Fisiese adres:  Communitas, Noordwal-Wes 1, Stellenbosch, 7600

VBO het ook Streekverteenwoordigers.  Maak gerus met hulle kontak.

Caledon en Swellendam: Franziska Andrag-Meyer 028–435 6270
Wesland en Piketberg: Erik Basson 022–713 1317
Tulbagh en Worcester: Peet Bester 023–313 3454
Goodwood, Durbanville en Brackenfell: Moet nuut aangewys word
Bellville en Parow: Nelis Janse van Rensburg 021–913 1849
Stellenbosch en Paarl: Hannes Koornhof 021–883 3458
Somerset-Wes, Kuilsrivier en Wynberg: Jannie le Roux 021–856 1385
George, Knysna en Mosselbaai: Anton Louw 044–871 1212
Oudtshoorn, Riversdal en Beaufort: Jan Marais 044–272 4608
Koeberg, Kaapstad en Swartland: Michiel Strauss 021–558 9457
Namakwaland, Calvinia en Clanwilliam: Tallie van den Heever 027–712 1519