{ARGIEF}

Sondag 14 Junie 2009

In die onwaarskynlike …  lê die krag en tekens vir hoop

Tel die onwaarskynlike nog vir die kerk vandag? Ek bedoel, soek en gee ons ernstig genoeg aandag aan die onwaarskynlike optrede van God, onwaarskynlike opdragte van God, en ja, wat nog te sê van aandag gee aan die redding wat daar lê in God se gebruik van die onwaarskynlike persone in ons gemeentes, en samelewing?

Dawid se keuring, sy aanwysingsproses en salwing as Koning, geskied en is gehul in ’n klimaat van die onwaarskynlike. Eers is daar Samuel se aanvanklike teenkanting van Israel se wens om ’n eie Koning te wil hê. Die teenkanting broei en groei tot groter afkeer van wat uiteindelik lei tot ’n breuk in hul verhouding (soos verhaal word in 1Sam.15:10 vv). Dan is daar die spanning tussen Samuel en Koning Saul, twee volwassenes. Ook Saul se manier van hoe hy die opdragte van die Here hanteer het, het net die spanning tussen hulle verhoog. En só kom die finale breuk dan toe Saul as koning die direkte opdrag van die Here om vir Amalek te verslaan en alles wat hy het, om die lewe te bring, ignoreer. Hieroor leer ons dat nie net Samuel ontsteld was nie, maar ook die Here bedroef geword het, omdat Hy Saul tot koning gemaak het.

Die beheermagtige ingrype van die Here, skyn reeds deur in Sy toon van berou (1Sam.15:11) dat Hy Saul Koning gemaak het. Dit word verder aangeblaas deur die drievoudige ‘EK’ (verse, 1,3,7) en maak dit helder duidelik dat die Here hier die hef in die hand het, Hy die handelende Een is, Hy die toekoms sien en die kenner van die toekoms is. Samuel se rol is bloot net om uit te voer wat die Here inisieer.

Dawid, ’n jong skaapwagter, die agste kind, die een wat nie teenwoordig was nie, die een wat gemeet teen Eliab se voorkoms, nie eintlik ’n kans staan nie, wys dat in die onwaarskynlike, hoop skuil, in die onwaarskynlike, Goddelike hoop is wat alle denke te bowe gaan – dat die normale praktyke en maatstawwe soms as onvoldoende vertoon en enige aanvaarde prosedures as bloudruk verwerp kan word.

Dié ingrype van die Here bevestig onder meer Sy Almag en Teenwoordigheid in die elke dag se sake, ook in ons tyd vandag. Dit onderstreep die waarheid dat soos die verlede en hede aan God behoort, so ook die toekoms aan Hom behoort en Hy self, soos nodig, in die gebeure en verloop van ons geskiedenis, betrokke is. Dit herbeklemtoon die Bybelse waarheid dat God se gedagtes nie ons gedagtes is nie (Jes.55:8).

Dat die Here selfs die onwaarskynlike, hetsy program, prosedure, handeling, kan gebruik,
benadruk dat niks buite die ‘moontlike’ van God staan nie. En wanneer die Here iemand, ’n persoon wat na ons mening die onwaarskynlike is, tog nuttig maak, aanwend en tot diens roep en salf, getuig dit van die wonder, genade en onuitputlike reddende liefde van God en van die blywende hoop wat God teenoor ons koester – dat ons sal insien en instem om in die plan van God, ons plek in te neem, ons opgelegde taak sal aanvaar en tot Eer van God sal leef.

Ons het pas ons nuutgekose president ingehuldig/in diens toegewy. Vir baie die ongewensde/onwaarskynlike kandidaat. Baie wys die manier waarop die regering met die ekonomiese resessie omgaan, as onvoldoende af. Selfs Barack Obama se oproep om ’n nuwe begin tussen VSA en die Muslim gemeenskap, is met uiteenlopende reaksie begroet.

Binne kerklike kringe word ontevredenhede gelig oor die hou-vas-oomblik in die eenheidsgesprekke. Groeiende armoede, geweld, sinlose moorde, werkverliese en sporadiese ras-insidente laat baie hoop in Suid Afrika en haar mense verloor, selfs in God en in die kerk. En tog wil die verhaal van ’n jong skaapwagter wat tot koning gesalf word, hy wat teen alle logika in uitverkies en as koning gesalf word, ons herinner dat God nie altyd met die normale, verstaanbare praktyke werk nie. God opereer nie net as God binne die grense van die logika nie, maar Hy is magtig genoeg om buite die normale, op onverstaanbare wyse en nie van bloudrukplanne afhanklik nie, Sy Wil te laat geskied en Sy koninkryk te laat kom.

Dit is hierdie amper “eie Goddelike” en menslik onbekende terrein, wat God God maak, wat Hom so aanbiddelik maak, so navolgenswaardig. Dit is hierdie beheermagtige ingrype van God wat ons roep tot groter vertroue en dieper geloof. Dit wil ons as kerkgemeenskap, soos Danie van Zyl in sy preekstudie suggereer, met ’n nuwe en verfrisde visie van gemeente/gelowige-wees inspireer, dit wil ons tot her-toetrede lei.

Leer ons as gelowiges en gemeentes om hoop, krag en God in die onwaarskynlike te erken, sal ons nie net onsself opnuut aan God verbind nie, maar sal ons inderdaad met groter versigtigheid omgaan met die onwaarskynlikes, juis omdat God ons hierin kan verras. So help ons mense om met hoop, liefde, geloof en vertroue te leef, maar ook om met nederigheid in ons diens aan God, mens en ons land toegewyd te wees. Amen.

Donald Katts

Seisoen van Luister Powerpoint