{ARGIEF}

Vierde koninkryksondag: 5 Julie 2009

Name: “God-nadruklik”?

Wat is in ‘n naam? het William Shakespeare by geleentheid gevra. Name, so weet ons, dra krag, het onuitgesproke invloed, help identiteit verleen en beskik ook oor die potensiaal om groot ongelukkigheid te veroorsaak. Hierdie ongelukkigheid kan lei tot vyandskap, rassisme, geweld en selfs oorlog.

Dít het ons ervaar met die verandering van straat- en plekname. Ek bedoel, daar is nou nog verskillende soorte gevegte oor die verwysing na Pretoria as Tswane. En so sou die lysie seker aangevul kon word.

Jerusalem, ook bekend as Sion, wat ook Dawidstad genoem word (om maar net die nuutste en meer bekende naam te gebruik, want histories het Jerusalem onder meer ook die betekenis van fondasie van Salem gehad: sien Ps 76:2), verteenwoordig inderdaad wat in haar  geskiedenis gebeur het. Iets van haar verskillende leiers en inwoners, asook van die sosio-ekonomiese en politieke gebeure van die dag. Jerusalem is die meer politieke naam (want dit gaan oor die inname, besit en regeer van die stad), en Sion die meer godsdienstige naam,  omdat laasgenoemde die ‘woonplek’ van God aandui. Soos die Psalmdigter dit dan ook in Ps 48:1,3 besing: “Die Here is groot! Aan Hom kom al die lof toe hier in die stad van ons God … die stad van die Groot Koning.”

Die interessante is dat beide name, Jerusalem (Sion) en Dawid, eintlik sinoniem met God’s betrokkenheid, God’s eiendom, God’s teenwoordigheid en God’s beskerming is, en daarom dan ook sinoniem met God self is. U sien, God wys sélf vir Dawid as koning aan. Hy laat Dawid toe om Jerusalem binne te val, en gee hom dan die oorwinning. God maak só van Jerusalem sy ‘woonplek’. 

Hierdie noue verbintenis tussen Jerusalem en Dawid (polities en godsdienstig) asook God, word onderstreep deurdat Jerusalem later dan ook ‘Dawidstad’ genoem word. Name, persoonsname en plekname, speel nie net ’n belangrike politieke en/of historiese rol nie, maar teologies is dit van net so ’n groot belang. Dit help ons om te verstaan wie ons is, aan wie ons behoort, en ja, wie die een is wat gedurig in ons lewe teenwoordig is, wie die een is aan wie ons meer gehoorsaamheid (behoort te) toon, aan wie ons toegewyd is.

Jerusalem (as pleknaam) en Dawid (as persoonsnaam) is name wat in die konteks van ons gelese gedeelte op sigself en in eie reg dui op ’n besondere verbintenis tot, bewustheid van en toegewydheid aan God: Jerusalem op haar beurt as woonplek van God, en Dawid as ’n man na aan God se hart – Dawid as gekose leier en koning om die wil van God oral, maar veral in Jerusalem, te demonstreer.

Teen hierdie agtergrond is dit dus tog van belang dat name, plek- en/of persoonsname, iets van die politieke, sosiale asook spirituele impak van die dag, sal dra en oordra. Meer nog, vanuit ’n Christelike hoek moet name, in besonder persoonsname, iets van dié God wat ons dien, vertel. Moet (ons) name iets van God se teenwoordigheid asook Almag, verteenwoordig. Moet name die noue verbintenis wat daar tussen ons as persone en ons God bestaan, illustreer, moet dit iets presenteer van die rol van God in ons lewe. Moet ons manier van lewe help om ons medemens, na die wil van God heen te wys – moet ons manier van lewe help om die wil van God tot uitvoering te bring.

Die ideaal sou wees dat ons name, persoonsname sowel as plekname, geestelike rigtinggewers behoort te wees: “God-nadruklik”. Is persoonsname en plekname nie veronderstel om in “verbond-eenheid” te staan nie? Moet dit nie toon dat plekke en inwoners in solidariteit met mekaar staan nie? Dat mense in hul plekke op grond van ‘n noue verhouding met die Wil van God, gerig word nie? Veral in ’n land soos Suid Afrika, waar ongeveer 80% van haar inwoners onder die Christelike vaandel leef – behoort dit nie juis hier sterker te geld nie? 

Soos Liesel in die preekrooster tereg wys, is bogenoemde juis die rede waarom Jerusalem vandag nog so ’n integrale deel van die konflik in die Midde-Ooste is. Jerusalem versinnebeeld die teenwoordigheid van God, die woonplek van God en daarom verbind die Nuwe Testament dan juis die Messias met Jerusalem.

Wie ernstig is oor God, sal ernstig oor name moet wees, persoonsname en plekname. Ja, daar sal ernstig oor doopname besin moet word, want dit is dikwels bloot gekoppelde name van ma en pa, name van TV-persoonlikhede, fliekhelde, “rappers” en rock-sterre – baiekeer het doopname niks met God, die Christelike tradisie of Christelike geloofsgewoontes te doen nie.

Dink net hoeveel kan persoonsname, plekname, name van lughawens en parke, straatname en name van nuwe uitvindsels, as dit in die Christelike tradisie staan, help met evangeliese bewusmaking – en hoe dit God-wysend en moreelvormend kan wees.

Name? Wat is in ’n naam? Dalk meer as wat ons besef!

Donald Katts

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere preeksketse in Preekriglyne-argief oor 2 Sam 5