{ARGIEF}

Derde Sondag in Koninkrykstyd 28 Junie 2009

Johan Conradie het ‘n baie interessante preekstudie en liturgiese voorstel geskryf oor 2 Sam 1:1 & 17-27.  Met die eerste lees van die teks wonder ‘n mens hoe ons hieroor moet preek- nou nie die soort teks van ons elke dag sal kies vir ‘n preek nie. Ons hoor dikwels dat mense graag vandag ‘n positiewe boodskap wil hoor en nie nog oor ‘n klaery in die kerk wil hoor nie. My “tweede gedagtes” is bedoel as aanvulling tot die preekvoorstel.  Ek stel  ‘n ander moontlik preek- en liturgiese-lyn voor wat te make het met die klag wat gebore word uit die teleurstelling,  ontnugtering en woede wat die dood van Saul maar ook die ineenstorting van Saul se ryk tot gevolg gehad het.

Ons leef dikwels met hierdie emosies van ontnugtering en teleurstelling. Dit het my opgeval hoe daar ook weer hierdie week in die pers ontevredenheid en ontnugtering uitgepreek is oor leiers.  Time (22 Junie 2009) se voorblad verlede week lei met die opskrif: Why Britain wants to see the back of Gordon Brown. After 12 years, an angry nation is simply fed up with the Labour Party and its leader. Maak eintlik maar enige koerant oop en jy sal hierdie opskrifte van woede daarin raaklees.  Dikwels woede wat te make het met onverwerkte emosies van ontnugtering en verlies.

Saul is dood maar ook sy ryk het ook tot ‘n val gekom. Hy was temperamenteel- tot op die punt van ontoerekeningsvatbaarheid – en die gewone mense moes daaronder lei –Johan verduidelik die konteks tov Saul se val soos volg – ek vertaal dit kortliks in terme van hoe dit waarskynlik in ons konteks in die koerant berig word.

  • Hy was baie temperamenteel. In dié mate dat daar druk op hom toegepas is, het hy toenemend in sy gedagtes versteur geraak. Gerugte wil dit hê dat die president nie meer toerekeningsvatbaar is nie – swig onder druk;
  • Aan die einde van sy lewe was hy waarskynlik nie meer geestesgesond nie. – Hardnekkige gerugte wil dit hê dat die president nie meer geestesgesond is nie;
  • Sy voortdurende botsings met Samuel was ’n verdere bydraende faktor tot sy ondergang. Die redes bly steeds redelik onbekend. Voortslepende konflik in die regerende party en alliansie vennote ondermyn die vertroue in die regering. Daar is sterk aanduidings dat dit te make het met ‘n persoonlikheidsbotsings wat die regering van die dag lamlê;
  • Samuel was gekant teen die nuwe orde en net die geringste rede was nodig vir Saul om aanstoot te neem – die president is gekant teen die voorgestelde hervorming en magsdeling;
  • Dit kon ook gepaard gegaan het met jaloesie, omdat Saul funksies wat in die ou bedeling van die koningskap by Samuel berus het, van hom oorgeneem het. -Die president wil nie mag deel nie en klou verbete vas aan regte van die verlede. Peilings toon dat vertroue in die president op ‘n laagtepunt is – vertrouelinge van die verlede, het nou ook teen hom gedraai;
  • Samuel  het nie vertroue gehad in Saul se vermoë om die ou orde van leierskap te handhaaf nie, en nou het Saul hom selfs meer mag toegeëien. Hy (Samuel) het gevolglik die gesag van Saul openlik verwerp. Dit was egter sy jaloesie oor die jong held Dawid, wat Saul finaal laat kop verloor het. Hy was immers die een wat Goliat die Filistyn, verslaan het. Saul daarenteen, het in sy stryd met die Filistyne sy lewe verloor. Ouer leiers is jaloers op die suksesse van die jonger leiers.

Daar moes grootskaalse ontnugtering onder gewone mense gewees het. Vir lank het hulle gevra vir ‘n koningshuis en hulle hoop daarop geplaas dat dit ‘n meer regverdige bedeling sou bring, maar as gevolg van Saul het dit misluk. Daar moes op die strate ‘n diep gevoel van ontnugtering gewees het wat met die berig van sy val na vore gekom het.

Publieke verwerking van pyn: Ek het  ‘n aanvoeling dat hierdie teks vir ons tot groot seën kan wees, want van ons totale gemeenskap in Suid-Afrika is dit waar dat ons sit met opgehoopte ervarings van verliese en ontnugtering en daar is weinig ruimtes in ons samelewing waar dit vir ons verwoord word of waar ons ons eie pyn verwoord. Meestal beskou ons hierdie emosies as private aangeleenthede wat ons maar op ons eie deurwerk of meestal ontken. ‘n Sensitiewe preek oor die Klaaglied van Dawid kan vir ons so ‘n ruimte bied. Wat opvallend is van Dawid se opdrag 2 Sam 1:18, is dat die klaaglied wat hy skryf aan die hele volk geleer moet word.

Pynverwerking en die kunste: Dit is opvallend dat Dawid ‘n kunsvorm – digkuns gebruik om sy emosie uit te druk – byna of hy by ‘n grens is waar woorde en verduidelikende sinne nie regtig meer die ding doen nie – dan is die gawe van die kunste belangrik, met gedigte simbole en metafore kom ons verder wanneer ons ons hartseer van verlies uitdruk. Ek herinner my aan ‘n gesprek met ‘n gemeenteleier ‘n aantal jare gelede in Namibië oor mense wat diep ontnugter is, maar dit nooit verwoord nie – nooit daaroor praat nie en dan ontvlug in die soeke na allerlei vorme van genesing vir die pyn. Dit wil lyk asof die kunste ons hier verder help as ‘n rasionele benadering. Ek dink aan die bekende flim Silence of the Lambs (1991 – waar die bobaas CIA speurder Clarise Staling (gespeel deur Jodie Foster) ‘n troumatiese gebeure in haar verlede probeer verwerk deur haar in haar beroep uit te stort – sy word “wreed” ontbloot deur die kannibaal-skurk, dr Hannibal Lecter – ontstellend maar uitstekend vertolk deur Anthony Hopkins. Die plot van die film kan gelees word by http://www.imdb.com/title/tt0102926/plotsummary ‘n Moderne verhaal wat ons herinner aan die “demons” in ons almal – wat ons sukkel om in die oë te kyk. ‘n Briljante film – die klagtradisie  in die Bybel  is egter ‘n veel beter teks met ‘n veel meer realistiese herkenbare plot!

The QueenOp ‘n ander vlak dink ek ook aan die film The Queen wat handel oor die dood van Lady Diana en die onvermoë van die monargie om die emosie van die Britte te verstaan en te vertolk. ‘n Handige opsomming van die film kan gelees word by http://www.imdb.com/title/tt0436697/plotsummary

Jaco Hamman het oor die verwerking van verlies in gemeentes ‘n baie interessante boek geskryf: When Steeples Cry: Leading Congregations Through Loss And Change. In die boek stel hy oa voor dat ons – soos Dawid in die teks – in tye van verlies en teleurstelling ‘n klaaglied skryf om jou pyn te verwoord. Dalk is dit ‘n goeie voorstel om saam met iemand in die gemeente wat lekker skryf en emosies goed kan verwoord, ‘n eietydse klaaglied te skryf oor ons gemeenskap se ervaring van teleurstelling en verlies.

Johan sê by die inleiding van die Liturgiese voorstel:
’n Nuwe era breek aan met Dawid as koning. So lees ons ook van ’n radikaal nuwe era wat aangebreek het met die geboorte van die ander Een uit die geslag van Dawid: Christus die Here.

Die aanbreek van die nuwe era kom nie sonder hartseer en opoffering nie – Dawid moet afskeid neem van koning Saul en sy boesemvriend, Jonatan. ‘n Nuwe era kom nie sonder hartseer en opoffering nie – is die sinnetjie wat my gevang het. Indien ons mekaar wil help om deur die pyn te werk sal ons ook in die publieke ruimtes soos eredienste moet praat oor die emosies van verlies. Dawid het die belang hiervan verstaan– self gerou, maar ook sy volk gelei om hulle ervarings van rou beter te verstaan en deur te werk.

Dit is opvallend dat daar nie in die klaaglied na God verwys word nie. Ek vind dit nie vreemd nie, dikwels is daar in tye van diep worsteling nie woorde om met God te praat nie en moet dit ook nie geforseer word nie. Soos die rooster voorstel, lees ons hierdie week Ps 130 en dit is goed dat ons dit ook saamlees met hierdie klaaglied van Dawid.

Frederick Marais

Seisoen van Luister PowerPoint

Geen verdere Preekriglyne in Preekargief