{ARGIEF}

WAARDES HERWAARDEER

Ek het ’n paar aanvullende gedagtes op Heerden van Niekerk se deeglik geïntegreerde preekstudie van Filippense 3:4b-14 vir Sondag 5 Oktober 2008: Dirkie Smit skryf in Geestelike waardes (Die Burger 27/09) oor die vreemde roeping van die kerk onder andere die volgende: … Was en blý ons versoeking nie om godsdienstigheid te bevorder eerder as kerk te wees nie? Godsdiens, spiritualiteit, vroomheid, ja, opreg en ernstig, maar so dikwels eerder gedienstig aan ideologie, tydsgees en kultuur? Aan die volk en taal, people, politiek en mag? Aan heersende waardes, persoonlike strewes, voorspoed en sukses? Nié altyd so herkenbaar as kerk van Jesus Christus nie?…  Ons is die afgelope tyd intens herinner aan die invloed wat heersende waardes en strewes van persone (veral leiers) op hulself en ander het. Dis die fliek “Hansie” wat handel oor die lewe van ’n gevalle krieketheld; dis Mbeki se uittrede as president en sy regstryd om verlore aansien te  herstel; dis Robert McBride Hoof van die Metro-polisie van die Ekurhuleni Munisipaliteit se afdanking; dis die Waterkloof-vier se appélaansoeke wat in die konstitusionele hof verwerp is; dis Zuma se roemsug op presidentskap en die wye kommentaar op Zapiro se spotprent. Ek haal ‘n paar koerantberigte/artikels aan wat ’n prentjie skets van die heersende waardes en persoonlike strewes onder politieke leiers. Dit is so dat die politieke gebeure ons moeg maak en dat lidmate veel eerder oor hulle gevoelens wil praat. Dié berigte verwoord iets van ongemak met die situasie:

  • In Die Burger van 13/09/08 verskyn ’n in-diepte artikel oor Zapiro se skokkende spotprent, ek haal enkele paragrawe uit “Die beeld van ’n Man” aan:  Die tyd dat ons neutraal staan teenoor die daaglikse realiteite is verby. Zapiro se boodskap is duidelik: Skrik wakker, kan julle dan nie sien wat hierdie mense aanvang nie? En hoeveel langer gaan ons dit nog moet verduur? Die prent stel ook ernstige vrae aan diegene wat hom navolg en ondersteun. Hulle is elkeen aandadig aan hierdie misdade, moedig hom selfs aan. Sy makkers kniel voor hom; op hande en knieë word hulle voorgestel as biddend of kruipend. Zuma se outoriteit is onomwonde en hul diens aan hom absoluut. Waarop berus hul absolute navolging van hierdie man? Waarom kan hulle nie vir hulself dink nie? Kan ’n mens nog praat van politieke etiek, politieke moraliteit, ’n politieke gewete? Of moet ’n mens noodwendig gestroop wees van dit wat jou swaarder maak, terug- hou, dit wat hinderlik is en keer dat ’n mens suksesvol deur die politieke terrein beweeg? …Wat veronderstel was om ’n simbool van gelykheid en geregtigheid te wees, verwoord nou desperaatheid en hulpeloosheid. Aan die manier waarop haar arms teen die grond gehou word lees mens ’n vergelyking met Christus aan die kruis. Sekere kritieke en waardevolle nasionale en sosiale beginsels word ter wille van een man se ambisie geoffer. Daar sal nie geskroom word om enige obstruksie uit die weg te ruim nie. 
  • Mbeki se bedankingsrede begin soos volg: Ek wil van hierdie geleentheid gebruik maak om die nasie in te lig dat ek vandag ’n brief met my bedanking uit die hoë posisie as president van die republiek Suid-Afrika aan die speaker van die nasionale vergadering (NV), die agbare Baleka Mbete, oorhandig het. Dit sal effektief wees vanaf ’n datum wat deur die NV bepaal sal word. Ek wil my opregte dank teenoor die nasie en die ANC uitspreek dat aan my die geleentheid gebied is om die afgelope 14 jaar te dien as visepresident en president van Suid-Afrika.Hierdie diens was te alle tye gegrond op die visie, beginsels en waardes wat gedien het as die riglyne vir die ANC in sy moeilike en gevaarlike stryd oor die dekades heen voordat ons in 1994 ons vryheid verkry het.Onder meer het dié visie, beginsels en waardes die kaders van die beweging lewenslange lesse geleer wat ons besiel het om – waar ons ons ook al bevind en wat ons ook al doen – te verseker dat ons optrede tot die skep van ’n vry en regverdige samelewing sal bydra, tot die opheffing van al ons mense en die ontwikkeling van ’n Suid-Afrika wat behoort aan almal wat in dié land woon.Inderdaad, die werk wat ons gedoen het om hierdie visie en beginsels na te streef, was deurentyd gegrond op die eeue oue waardes van ubuntu, van onselfsugtigheid, opoffering en dienslewering op ’n wyse wat verseker dat die belange van die meerderheid voorrang geniet bo ons begeertes as individue. Ek glo ten diepste dat die regerings waarin ek die voorreg gehad het om te dien, opgetree en gewerk het in die volle gees van hierdie belangrike waardes, wat ons aan die voete van hoofman Albert Luthuli, O.R. Tambo, Nelson Mandela en ander geleer het. 
  • Paragrawe uit die berig “Parlement gons, gerugte vlieg op dag van groot politieke drama” (Die Burger 24/09) lui:’n Week van groot drama in die beste tradisie van politieke intrige het gister hier voortgeduur. Eers die Nasionale Vergadering (NV) wat pres. Thabo Mbeki se bedanking aanvaar, toe die bom oor middagete met die bedanking van 11 ministers en drie adjunkte en uiteindelik wilde stories oor ’n wegbreekfaksie van die ANC wie se planne al hoe meer konkreet uitgestippel word. Ontnugterde ANC-lede maak hulle glo reg om ’n splintergroep te stig. Hulle verskil met die koers wat die party inslaan en kan hulle nie met die waardes van die Malemas, Vavi’s en Nzimandes vereenselwig nie. “No, chief! That will never happen . . . ha!” sê ’n ANC-LP.

    Maar, vertel ’n ander een in ’n donker hoekie op die vyfde verdieping van die nuwe vleuel (waar voormalige NP-LP’s volgens oorlewering hul skelmpies beetgehad het): Dis waar, die ding gebeur. “Die skeuring het begin.”
  • Geraldine sê vir die eerste keer nee vir die ANC (Rapport 27/09). Mense was daarop uit om pres. Mbeki te verneder sonder om die waardes soos vervat in die Grondwet eerste te stel. Dit was onnodig om hom te herroep, ’n verkiesing kon bloot vroeër uitgeroep gewees het.“Tot nou toe was ek ’n lojale ANC-lid, maar ek is nie blind nie en ek moet krities kan wees en kan sê wanneer ek nie met besluite saamstem nie,” sê Fraser-Moleketi.

Waardes (soos eersug en hebsug) kan jou sin van reg en verkeerd bepaal en selfs jou stem van jou gewete word. Dit kan ’n dryfkrag tot onreg word, ’n mag wees wat enigiets sal doen, die wet oortree en lewens vertrap en vernietig solank die ideaal bereik word. Paulus getuig oor sy lewensverandering: die omkeer en herwaardeer van sy lewenswardes.

Paulus getuig aan Christengelowiges oor waardes (en status), hy vertel van die waardes wat hom vroeër gemotiveer het en dié wat hom nou dryf. Hy was eers fanaties en het die kerk vervolg, maar die heersende polities-godsdienstige en sosiale waardes van sy tyd het vir hom betekenislose drek (mis) geword. Hy het na Damaskus ’n totale omkering van waardes gemaak; ‘n nuwe waardestelsel aanvaar. ’n Mens sou ook van ’n metamorfose (μεταμορφόομαι – Romeine 12:2) kon praat; of die “evangelie as geboorte van die nuwe lewe” (HvN). Dit gaan nie oor ’n paar oppervlakkige gewoontes wat aangeleer word nie, dit gaan oor ’n “hartsvernuwing” (soos Esegiël 36:26 verwoord).
Paulus het “dit nie teen Joodsheid en sosiale stand  as sodanig nie, maar teen die feit dat hierdie dinge hom verhinder om Christus te ken en te dien. Hier sou ’n mens kreatief besin oor dié dinge wat die gelowige in selfgenoegsame gearriveerdheid laat beland. Baie van die dinge is nie noodwendig verkeerd nie, maar kan beslis groei en die kennis van Christus in die wiele ry. Dorothee Sölle se ‘Death by bread alone’ illustreer hierdie punt treffend – sukses, voorspoed, gemak, eer ensovoorts (‘brood” in sy breedste sin) kan jou verstik. Jy kan nie daarvan alleen leef nie! (HVN).Aardse besittings en posisies verloor hulle waarde, want hulle is tydelik, met geen ewigheidswaarde nie herinner Jesus ons. Eers as ons ervaar ons word liefgehê dan vermurwe ons gevoel om onsself te handhaaf. Eers as ons besef dat God van my hou, dan word ek ’n nuwe mens. Jy hoef nie te presteer om deur God aanvaar te word nie, “deur jou geloof word alles wat Christus vir jou gedoen het só vir jou toegereken, dat dit is of jy dit self gedoen het (Murray Janson – In Sy teenwoordigheid). Nou wil Paulus Christus waarlik leer ken en Hom sodoende toelaat om die krag van sy opstanding ook in hom te laat werk (Murray Janson). Die waarde lê nou daarin om Christus te ken;  nie oor feitekennis nie, maar “intieme, persoonlike, lewensveranderende kennis van Christus” (HvN). Volgens Henry Nouwen (In the Name of Jesus: Reflections on Christian leadership)  gaan dit om God se hart te ken wat in Jesus vlees en bloed geword het. En om Jesus se hart te ken en God lief te hê, is een en dieselfde ding. Uit dié hart vloei daar  strome water wat lewe gee. Wanneer Christenleiers in die wêreld met dié kennis leef, bring hulle genesing, versoening, nuwe lewe en hoop orals waar hulle gaan. ’n Lewende verhouding met Christus mond uit in die dra van vrugte (Mat 21:33-46). Dit is ’n nuwe lewenswyse wat Geesgerig (dit is, op God gerig) en Geesgedrewe (dit is, deur God gestuur en gedryf) is. Dié situasie in die land se politiek en ekonomie, die heersende waardes en persoonlike strewes maak dit moeilik, maar ons laat ons nie van stryk bring nie, ons staan vas en bly aan die Here getrou (Fil 4:1). Die Heilige Gees stel jou instaat om soos Paulus in moeilike omstandighede die nuwe lewe te lewe, Christus te ken en herkenbaar kerk van Jesus Christus  te wees.

  Pieter van Niekerk  – Friemersheim