{ARGIEF}

Sondag 17 Mei

  1. Nelis du Toit het regtig vir ons `n deeglike en oorwoë stuk oor Hand 10:44-48 voorberei vir komende Sondag se diens. Ek kan dit met vrymoedigheid aanbeveel en kan min daarop verbeter.
    1.1   Sy eksegetiese opmerkings is baie helder en betroubaar. Ek is bv dankbaar dat hy vs 44-48 plaas binne die verband van die hele hoofstuk. Dit sal `n fout wees om vs 44-48 los te maak van die res van die hoofstuk en bv te preek oor die Heilige Gees of die doop met die Gees of selfs die waterdoop. Dit sou `n fout wees, want dit gaan in dié hoofstuk nie in die eerste plek daaroor nie. Die sentrale vraag hier is nie die doop of die doop met die Gees nie, maar die vraag of ons verstaan dat God nie onderskeid maak tussen mense nie, maar – soos vs 34-35 sê – uit enige volk of groep die mense aanneem wat Hom eer.
    1.2   Ook die advies wat Nelis gee vir die verstaan en verkondiging van die gedeelte, is goed. Hy sluit aan by Vigsherdenkingsondag en vra of ons met die Gees kan meegaan as Hy oor ons mensgemaakte grense heen beweeg na mense en groepe wat Hy liefhet ten spyte van ons vooroordele. Ek het ook baie gehou van die preekvoorstel en die vloei van sy argument: dit sou met vrug gebruik kon word.
    1.3   Dit is ook belangrik om rekening te hou met die tyd in die kerkjaar waar ons nou is. Ons is tussen Opstanding en Pinkster. Wat gebeur in Handelinge – en wat ons in dié gedeelte sien – is dat die implikasies van die verlossing wat Christus gebring het, duideliker uitgespel word en letterlik in vervulling begin gaan. Wat in die OT plek-plek gesê is, wat Jesus nog duideliker kom sê het, gebeur nou na die Opstanding: die verlossing spoel met krag oor sy Joodse walle na die heidene en na die ganse wêreld. 
    Dit is die stelling wat gemaak word. Die vraag wat aan ons gevra word, is of ons saamkom. In die gedeelte hoor ons hoe die Gees met Petrus werk om sy oë oop te maak vir God se werk en hom te oortuig om saam te kom – teen al sy vooroordele in!
  2. By die lees van die gedeelte het ek meermale gedink aan die missionêre teologie van Andrew Walls, die bekende Skotse sendinghistorikus. Dit gee `n interessante perspektief op die gedeelte en help `n mens om die belangrikheid van wat hier gebeur, te verstaan.
    2.1   Walls het heelwat geskryf oor die bekering van die heidene tot die Christendom en oor die wyse waarop hulle ingebind is in die een kerk van Christus saam met die Joodse Christene. Walls is van mening dat ons gans te min aandag gegee het aan die verskynsel. Na sy mening is die verbreding van die kerk na die heidene, hoe dit gebeur het en die versoening van die twee groepe in die een liggaam van Christus (Efes 2:11-22), een van heel belangrikste momente in die heilsgeskiedenis. Om dit te verwaarloos is `n fout, omdat ons hier belangrike peilers kry, nie net vir die vraag wie die kerk is en hoe die kerk werk nie, maar selfs ook oor ons verstaan van die evangelie en die uniekheid van die evangelie.
    2.2   Walls skryf iewers dat `n mens die Christendom nie so gemaklik kan vergelyk met Islam en die Judaïsme soos wat baie mense dink nie. Hoewel die drie godsdienste dit in gemeen het dat hulle historiese godsdienste is, is hulle in ander opsigte totaal verskillend. Een van die belangrikste verskille is dat die Christendom – anders as die ander twee – van die begin af uitbreek uit die spesifieke kulturele en taalkonteks waarin dit oorspronklik gekom het. In beide die Judaïsme en Islam kom die godsdienskant altyd saam met `n bepaalde taal en kultuurvorm – wat beteken dat bekering tot hierdie gelowe eintlik ook die aanvaarding van `n bepaalde kultuur en taal behels.
    In die Christendom was dit van die begin af anders. En dit sien ons nêrens so duidelik as in Handelinge 10 nie!
    2.3   Die Joodse Christene het waarskynlik van die begin af gedink (en selfs ook gehoop!) dat daar ook heidene tot geloof in Christus sou kom, maar, sê Walls, dat hulle nie gedink het dat dit so baie sou wees nie. Daar is rede om te dink dat die Joodse Christene in die begin gedink het dat die Christendom tot `n hoë mate `n Joodse beweging sou bly. As daar bekerings uit die heidene was, sou dit waarskynlik min genoeg wees dat hulle die mense in die Joodse Kerk kon assimileer. Dit sou beteken dat die heidene deel van die gemeente kon word, maar dat hulle (soos die geval was in die Jodedom voor die koms van Christus) eintlik eers Jode sou moes word. Ons hoor dit op meer plekke – ook in die gesprek in Hand 15. Daar was heelwat Joodse Christene wat gedink het dat heidene al die Joodse voorskrifte sou moes gehoorsaam as hulle Christene word.
    2.4   Nou kan ons die belang van Hand 10 begin verstaan. Dit is wel nie die eerste keer waar ons sien dat die Christendom wyer uitkring as die Jodedom nie, maar hier begin dit duidelik word dat die Here (en daarom die kerk) nie absoluut gebind gaan wees aan die Joodse gebruike, gewoontes en godsdiensreëlings nie. Die indikasies is baie duidelik in hierdie hoofstuk dat `n nuwe episode begin: mense wat nie Jode is nie word ingesluit in die kerk en klaarblyklik gaan daar nie van hulle verwag word om in te val by Joodse godsdiensgebruike nie!Dit is belangrik om goed aandag te gee aan die dramatiese manier waarop die beweging hier gebeur: 
    • Die vloei van die heil na alle mense (ook na die heidene wat op `n manier deur Israel verag is!) – word begrond in die werk van Christus en in die wese van God. Agter hierdie gebeure sien ons `n God wat nie `n aannemer van die persoon is nie, en nie onderskeid maak nie. Hy het alle mense lief en verwag dit ook van ons.
    • Die verrassende hier is dat die Here sy weerstandige kerk wil saamneem en gebruik in hierdie proses waarin hy uitreik na die nasies. Van die wonderlikste momente in die verhaal is die gesig wat Petrus hier kry en die dramatiese manier waarop die Here Hom heroriënteer op wat heilig en onheilig, reg en verkeerd is.
    • In hierdie proses waarin die Gees ons meeneem, moet ons egter weer tot bekering kom. In die gedeelte word duidelik gemaak dat God se uitreik na alle mense in nood nie altyd met vreugde begroet word deur sy kinders nie. `n Groot deel van ons onbekeerdheid wat afgebreek moet word deur die werk van die Gees, het te doen met ons vooroordele teenoor ander mense en veral ander groepe. Die geskiedenis sou leer dat dit in elke geslag weer nodig sou wees. Soms het hierdie vooroordele te doen met kultuur- en taalverskille, soms met ekonomiese verskille, soms met godsdienste of morele vooroordele.
    • Soos wat die verhaal vertel word, is dit duidelik dat hierdie verbreding van die Christendom na ander kulture nie maar `n appèl is wat ter wille van politieke korrektheid gemaak word nie, maar dat dit werklik iets is wat van die lewende God kom. `n Engel praat met Kornelius terwyl die Gees aan Petrus sy gesig gee. Ons hoor dit ook duidelik in vs 44-48: Petrus sien en erken dat dit God is wat hier besig is om te praat en te handel – en daarom mag hulle dit nie keer nie.

    2.5
       Walls hoor twee verrassende wendings in die manier waarop die evangelie uitbreek na die heidene. Die eerste het te doen met diversiteit en gaan daaroor dat die evangelie in nuwe kultuurvorme en ander tale verkondig en beliggaam word. Die tweede verrassing is dat dit in Handelinge nie lei tot die stigting van ‘n ander of nuwe of tweede kerk nie, maar dat hierdie variasie, hierdie diversiteit in een liggaam ontplooi word. Die evangelie word in meer tale verkondig en kry gestalte in meer kulturele en sosiale vorms, maar dit is alles deel van die Een Evangelie van die Een Lewende God en moet daarom gestalte vind in die Een Kerk van Christus. Hoewel hierdie punt eers in Hand 15 op die spits gedryf word, hoor ons dit ook reeds hier in Hand 10. Petrus se woorde dui duidelik op `n erkenning dat die verskeidenheid wat besig is om te ontplooi binne die kerk en die geloof, alles van Een God en Een Gees kom en dus binne Een Liggaam gekoester moet word.  

Coenie Burger

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere Preekriglyne in argief beskikbaar