{ARGIEF}

Sondag 10 Mei 2009

Dit wat in Hand. 8:26-30 vir ons vertel word, is maar net een episode in die groot en merkwaardige verhaal van die boek Handelinge.  Dit staan dus ingebed in ’n veel groter verhaal, met tientalle ander episodes wat ook vertel van God se “reddingsending” (Pieter van Niekerk se benaming in sy preekvoorstel).  En hierdie “reddingsending” kring in Handelinge al wyer in die wêreld uit, in lyn met wat Jesus in Hand. 1:8 reeds daaroor gesê het. 

Wat na my mening baie belangrik is vir ’n preek oor ons Skrifgedeelte, is dat God se “reddingsending” direk aan die werk en die krag van die Heilige Gees verbind moet word (sien Hand. 1:8).  Daarom sou ek graag wou hê dat ’n preek oor hierdie gedeelte nie die werk van die Heilige Gees sal onderbeklemtoon nie.  Dit is immers die Gees van God wat deur ’n engel vir Filippus aansê om op die stil pad tussen Jerusalem en Gasa te gaan loop.  En toe die wa van die Etiopiër verbykom, is dit ook die Gees wat vir Filippus stuur om saam met die wa te gaan loop.  En dan, wanneer Filippus die geleentheid kry om met die man te praat, is dit ook die Heilige Gees wat deur Filippus werk om die evangelie aan hom te verkondig.  Volgens vers 39 is dit boonop die Gees wat vir Filippus wegneem sodat die Etiopiër hom nie meer kon sien nie.  En dan het ’n mens nog niks gesê oor die werk van die Gees in die Etiopiër om hom tot geloof te laat kom nie!  So ek meen dat ons nie oor hierdie gedeelte kan dink of praat sonder om diep onder die indruk te wees van die grootsheid van die werk van die Gees nie.

Maar behalwe ’n behoorlike klem op die werk van die Heilige Gees sou ek in ’n preek oor ons teksgedeelte die gemeente ook wou wys op die belangrike rol van die boodskap en die boodskapdraer.  Die Gees werk nie “onmiddellik” met die Etiopiër nie, maar “middellik,” en Hy gebruik spesifiek die Skrifgedeelte uit Jes. 53 en sy boodskapdraer, Filippus, as “middele” om die Etiopiër ’n kind van Jesus te laat word.  Jes. 53, oor die lydende kneg van die Here, word so die fondament waarop Filippus kan bou om die evangelie oor Jesus aan die man te verkondig.  Die boodskap van die Skrif is met ander woorde hier van die allergrootste belang!  En is dit daarby nie wonderlik dat ’n mens aan jouself mag dink as ’n “middel” (of “werktuig” of “instrument” of “getuie”) wat die Gees in ’n sekere situasie of oomblik gebruik om iemand anders nader aan God te help bring nie!  Die vraag van die Etiopiër in vers 31: “Hoe sou ek kon (verstaan) as niemand dit vir my uitlê nie?” wys mos ook op die belangrikheid van die boodskapdraer.  En dit het my sommer ook weer laat dink aan dit wat Paulus in Rom. 10:14 skryf, waar hy vra: “Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie?  En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie?  En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?”  Wat die Etiopiër die dag daar op die wa beleef het, is waarskynlik dat dit dikwels moeilik is om die Skrif bloot op die klank af te verstaan.  Maar die Gees stuur iemand om hom tot die punt van verstaan te help.  En Hy doen dit ook vir mense vandag!  Dalk soms net deur ’n sinnetjie wat jy op die regte oomblik iewers lees of deur ’n verhelderende gedagte of perspektief wat iemand in ’n gesprek of ’n preek uitspreek.

’n Belangrike tema in Hand. 8:26-40, soos die preekvoorstel dit ook uitwys, is dat die Gees grense oorsteek om God se “reddingsending” te laat gebeur.  In ’n preek oor hierdie Skrifgedeelte knoop prof. P.F. Theron aan by die woord “verhinder” in vers 36 (sien “Vreemde Geregtigheid” van W.D. Jonker en P.F. Theron, p. 84 e.v.).  Die Etiopiër vra daar: “Wat verhinder dat ek gedoop word?”  En dan sê prof. Theron: “Filippus kan aan niks dink (wat verhinder) nie.  Dít is merkwaardig.  Ek kan aan omtrent vyf moontlike redes dink wat sou kon verhinder dat hierdie man gedoop word, dit wil sê opgeneem word in die liggaam van Christus, deel gemaak word van die volk van God.”  En dan brei prof. Theron uit op hierdie vyf redes, wat basies ook die grense is wat die Gees hier in Hand. 8 oorsteek:

  1.  Die Etiopiër was ’n heiden.  Maar prof. Theron sê: “As God dan die middelmuur van skeiding tussen Jood en heiden afgebreek het (Ef. 2:14), wie is hy, Filippus, dan om weer mure op te rig?  Die feit dat hierdie man uit die heidendom is, vind Filippus geen verhindering nie.”
  2. Hierdie man was ’n hooggeplaaste staatsamptenaar van die koningin van die Etiopiërs, letterlik ’n “magtige.”  En Theron sê: “Binne die samelewing mag die verskil tussen magtiges en onmagtiges groot wees, maar binne daardie vreemde gemeenskap wat ons die kerk noem, dit wil sê daardie gemeenskap wat leef uit die vreemde geregtigheid van God in Christus Jesus, is die muur van skeiding tussen ‘high society’ en ‘hoipolloi’ afgebreek.”
  3. Die man is ook ryk.  En hierdie keer sê Theron: “Hoe dit ook al sy, die verskil tussen ryk en arm mag in die samelewing baie belangrik wees maar binne die kerk, as daardie gemeenskap wat leef uit die rykdomme van God in Christus Jesus, is die verskil tussen ryk en arm, tussen elite en skorrie-morrie, irrelevant.”
  4. Die Etiopiër was ’n ontmande.  Dit het beteken dat hy nie in die Ou-Testamentiese volk van God opgeneem sou kon word nie (sien Deut. 23:1).  Theron vra: “Maar sou hierdie man sonder geslag of nageslag so by die deurblaai van Jesaja se profesie dalk afgekom het op Jes. 56:3-5?”
  5. ’n Laaste grens was dat hierdie man van ’n ander “ras” was, ’n Kusiet uit Afrika.  En hier sê Theron: “Maar dit kan Filippus nie skeel nie.  Binne die kerk as die gemeenskap van mense wat net maar leef uit God se genade, het rasseverskille nie opgehou om te bestaan nie, maar dit het opgehou om belangrik te wees.  Wat wel afgebreek is, is mure; mure van vooroordeel, mure van minagting.”

Die Gees steek met die boodskap van die evangelie, en met behulp van sy boodskapdraers, talle grense oor in God se “reddingsending.”  En daarom word mense ingesluit wat voorheen by voorbaat uitgesluit sou word.  En ons kan gerus vir onsself vra: Watter mense is daar wat God wil insluit in sy koninkryk wat dalk nog deur onsself of ons gemeente buite gehou word?  Watter grense is daar wat ons nie vandag wil oorsteek na ander nie?  En ook: Is ons werklik sensitief vir die leiding van die Gees in God se “reddingsending” sodat ons nie ’n hindernis vir hierdie sending is nie?

’n Laaste gedagte: Hoe die Heilige Gees vir Filippus gelei het, word baie duidelik in ons Skrifgedeelte vir ons uitgewys.  Dit mag sommige lidmate dalk laat wonder waarom hulle nie self die Gees so duidelik met hulle hoor praat nie.  Die prediker kan moontlik iewers in die preek iets sê oor hoe die Gees ons wel vandag nog lei: soos deur die Woord; en deur omstandighede (soos waar daar vir ons ’n deur oop- of toegaan); en deur ander mense (soos waar ons binne die gemeenskap van die gelowiges deur die Here van iets oortuig word); en selfs deur die gebruik van ons gesonde verstand wanneer ons dit in diens van die Here stel.

Hugo Biermann

Seisoen van Luister Powerpoint
Geen verdere Preekriglyne in Leesrooster argief oor Hand 8:26-40