{ARGIEF}

Heilig, heilig, heilig
7 Junie: Triniteitsondag

Dis nie verniet dat dit die eerste Sondag na Pinkstersondag is, wat hierdie jaar op 31 Mei geval het nie.  Op Pinkstersondag, glo ons, het die Drieënige God Hom in al sy persone aan ons openbaar: 

• die heilige God sit op sy troon, soos Jesaja Hom in Jesaja 6:1-8 gesien het;
• die Seun sit aan Sy regterkant, soos Christene glo Psalm 110 voorspel het;
• en die Gees is uitgestort om ons te troos en te versterk.

Toe ons kinders was, het ons nie geweet van Triniteitsondag nie.  Miskien het die dominee gedink dis Rooms, maar eintlik vier baie kerke in die hervormingstradisie dit, soos die Lutherse en die Anglikaanse kerke.

Nou, wat daarvan ons dink ook hierdie Sondag weer ‘n bietjie aan God se Drie-eenheid.  Meer nog, kom ons vier dit. 

Hulle vertel mos die verhaal van die man wat net eenmaal ‘n jaar kerk toe gegaan het.  Nie op Kersdag nie.  Nie met Paasfees nie.  Hy het net Triniteitsondag kerk toe gegaan – om te kyk hoe sukkel die dominee om God se Drie-eenheid te verklaar.

Maar eintlik dink ons nie dit hoef so moeilik vir ons te wees om hierdie drie-in-een-teenwoordig-wees van God te verklaar nie.

Kom ons probeer dit te verduidelik – en te vier – vanuit God se heiligheid.

En daarvoor gaan ons terug na Jesaja 6:1-8, ons teksgedeelte.
In hierdie gedeelte roep God vir Jesaja.  En Jesaja SIEN God.  En wat sien Jesaja?  Wat is die alleroorheersende ding wat Jesaja van God sien?

God is heilig.

In Jesaja 6:3 lees ons dan ook dat die serafs rondom God gesing het:  “Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare!”

Dis op hierdie drie keer “heilig” wat die serafs gesing het, wat Triniteitsondag gebaseer is.  So het die Christene geglo, hier van die vierde eeu na Christus af.  Hulle het geglo dat God drie persone, drie kante het, en dat die serafs dit al in Jesaja se tyd bely het, toe hulle driekeer gesing het:  Heilig, heilig, heilig is die Here.

Ons vind dit natuurlik in Openbaring terug.  Hier in Openbaring 4:8 lees ons dat vier “lewende wesens” met ses vlerke elk – net soos die serafs van Jesaja se tyd – aanhoudend gesing het “Heilig, heilig, heilig is die Here God.”

En onsself besing vandag God se drie-dubbele heiligheid in nie minder as 7 liedere in die Liedboek nie (Liedere 169 tot 175).  Party van hierdie liedere is deur groot meesters gekomponeer, soos deur Frans Schubert, en ander is mondelings oorgelewer.  Hoe dit ookal sy, of dit by monde van eenvoudige gelowiges of groot komponiste was, vandag nog het ons die behoefte – en die insig – om God se heiligheid te besing.  Soos die serafs van Jesaja en Openbaring.

Kom ons probeer nou om oor die Drie-eenheid van God te praat vanuit Sy heiligheid.

Ek dink nie “heilig-wees” beteken om eenkant handjies gevou te sit en vroom wees nie.  “Heilig-wees” beteken juis om jou hande vuil te maak met die probleme en die lyding van die wêreld.  En waar kom ek daaraan?  Ek leer dit by God!

God die Skepper is heilig.  En wat het Hy met sy heiligheid gedoen?  Hy het die reuse risiko geneem om as Mens gebore te word, en Sy hande vuil te maak met die lyding van die wêreld.

As mens het God ons gewys hoe om heilig te lewe.  Heilig lewe beteken om uit te reik na die swaarkry van ander.  Wanneer Jesus mense genees het, het hy hulle aangeraak, lees ons keer op keer in die evangelies.  Hy het hulle nie net as God genees nie, maar as mens aangeraak.  Dit is wat heilig-wees beteken.

Jesus het mense vaardighede kom leer om heilig te lewe.  Dis wanneer Hy saam met mense geëet het, dat Hy sy wysheidsuitsprake gelewer het.  Vir gewone mense.  Hoe om heilig te lewe.

Om heilig te lewe, beteken om respek te hê vir alle mense, of hulle belangrik of melaats is.  Om heilig te lewe, beteken om lief te hê wanneer jy gehaat word.  Dit leer ons by die heilige God tydens sy aardse bestaan. 

En aan die einde van sy aardse bestaan, het hy vir ons sy Gees gestuur, om ons te versterk.  Sodat ons “heilig” kan lewe, soos hy gelewe het.  Wanneer jy heilig lewe, is jy sterk.  En dit is wat die Heilige Gees doen.  Die Gees maak ons sterk om heilig – dus vanuit ‘n posisie van sterkte – die onheilige, die pyn, die lyding, die armoede om ons te hanteer.

Sondag is Triniteitsondag.  Ons kan dit vier deur saam met die serafs te sing:  Heilig, heilig, heilig is die Here God.  Maar ons hoef dit nie net te sing en te vier nie – ons kan dit glo ook.  Dat die heilige God drie kante het.  Hy skep alles heilig.  Hy het sy hande kom vuilmaak hier op aarde met ons onheilighede.  En Hy het vir ons Sy Gees gestuur om ons sterk te maak om heilig te lewe. 

En Hy gee ons die insig om te weet wat “heilig-wees” beteken.  Dit beteken om sterk te wees om die probleme van ons tyd aan te spreek.  En ons hande vuil te maak.

Christina Landman