{ARGIEF}

Ek het gedink dit sal interessant wees om, in die lig van die teks se klem daarop dat die gemeente ‘n voorbeeld vir al die gelowiges geword het (1 Tess 1:7) en dat mense oral gehoor het van hulle geloof in God (1 Tess 1:8) te kyk na die manier waarop die kerk / gelowiges die afgelope tyd die nuus gehaal het.  Watter soort nuus maak gelowiges deesdae – wat hoor mense van die kerk?  Die opvallende is dat die nuus meestal sleg is:

Die pynlike situasie ten opsigte van kerkhereniging tussen die NGK en VGKSA is reeds in ‘n vorige “tweede opinie” ter sprake gebring, maar is steeds relevant in die lig van 1 Tess 1:3 se klem op “die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus.”  Die volgende berig uit Die Burger sê iets oor die uitdaging wat hierdie werk, inspanning en volharding tans aan ons stel:

NG gemeentes ‘moet vertroue bou’

PRETORIA. – Dit is nou noodsaaklik dat die kerke van die NG kerkfamilie kontak tussen lidmate op grondvlak moet aanmoedig om vertroue tussen hulle te bou. So het ds. Collin Goeiman, skriba van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK), gister gesê. Dit kom nadat die meerderheid gemeentes en lidmate van die NG Kerk in ‘n oorlegplegingsproses oor kerkeenheid dit duidelik gemaak het dat hulle nie die Belhar-belydenis wat deur die VGK onderskryf word, wil aanvaar nie.  Goeiman wou nie direk hierop kommentaar lewer voordat hy dit self gesien het nie, maar het gesê dit is belangrik dat gemeentes na mekaar uitreik om die doelwitte van Belhar – soos versoening en geregtigheid – te bewerkstellig. Versoening, geregtigheid en eenheid is die drie sentrale temas van Belhar. Goeiman sê as die kerke kan saamwerk hiervoor, moet die leiers kyk hoe hulle die saak op leiersvlak verder kan voer.  Dit is volgens hom belangrik dat die kerke mekaar nie nou moet los nie. Intussen het die moderatuur van die NG Kerk in Wes- en Suid-Kaapland ‘n verklaring uitgereik om sy standpunt duidelik te maak. Die moderatuur beklemtoon hierin sy verbintenis tot kerkhereniging en sê die talle inisiatiewe wat dit op sinodale, ring- en gemeentevlak ondersteun, is ‘n konkrete uitdrukking daarvan. Wat Belhar betref, wys die moderatuur daarop dat dié sinode hom al in 1991 met die inhoud daarvan vereenselwig het. Verder het die sinode hom verlede jaar uitgespreek ten gunste van die insluiting van Belhar in die belydenisgrondslag van ‘n herenigde kerk, maar terselfdertyd gevra dat daar ruimte geskep moet word vir mense wat dit nie as belydenisskrif wil aanvaar nie. Die Wes-Kaapse moderatuur sê hulle glo die NG kerkfamilie moet ‘n versoeningsrol in Suid-Afrika speel, wat die herstel van eenheid en geregtigheid aan die hand sal werk. Dit sluit die bestryding van rassisme, armoede en geweld in. – Neels Jackson

(http://152.111.1.251/argief/berigte/dieburger/2008/03/20/SK/2/tnjbelharweer_1724.html)

 Die laaste sin uit hierdie berig, oor die bestryding van onder meer rassisme, het my dadelik laat dink aan die rassisme-debakels wat keer op keer onder studente voorkom.  Die nuutste debakel, oor die rassistiese Facebook-groep van studente aan Noordwes-Universiteit, met die skokfoto van ‘n “trofeejagter” daarby, laat ‘n mens dink: hierdie jongmense kom na alle waarskynlikheid uit ons kerke.  Hulle is gedoop (of dalk ingeseën), het kategese deurloop en moontlik belydenis afgelê…  En tog is dit die soort nuus wat hulle maak!  In Saterdag, 11 Oktober se By was daar ‘n boeiende artikel oor Krotbuurte van die kuberruim wat ‘n ontstellende perspektief hieroor bied.  Die artikel begin:

“Soos ‘n straathoek in Hillbrow op ‘n Saterdagaand, kan Facebook ‘n smerige plek wees. Veral as jy op ‘n uitgebreide toer gaan van die intellektuele krotbuurte van dié sosiale netwerk.

Want al is ons land reeds meer as 14 jaar ‘n demokrasie, lê haatspraak steeds soos rommel rond in hierdie virtuele uithangplek. En hoe meer rassisties die sentiment, blyk dit, hoe swakker die spelling. Helaas dikwels ook, hoe jonger die internetsluipers wat lede van hierdie groepe is.

Op die spoor van die groep “ek laaik nie ‘n h**tkop nie sou what”, wat vandeesweek in die koerante opslae gemaak het, het dit geblyk laasgenoemde is net die oortjies van die seekoei. Binne twee dae het ek afgekom op minstens 19 groepe, deur regse Suid-Afrikaners in die lewe geroep, waar die k-woord soos  soos ‘n nuwe mantra gebruik word. Dié groepe wissel in ledetalle van meer as 10 000 tot slegs een.

 Heelparty het die k-woord in hul naam. So is een groep, met slegs 24 lede, gedoop “f*k*n k*ff*r”. As “lokaas” is daar ‘n spotprent in die regterkantste hoek, van ‘n wit apteker wat ‘n koplose swart man se navraag beantwoord oor die medisyne wat hy vir hom voorgeskryf het: ” Yes, that’s what it says alright, removes black heads .”

Die groeptipe word aangegee as “just for fun”, en in die beskrywingsveld lees jy: “Al julle Wit Mense Wat Net Die F*kk*n Swart Goed Wil M**r!!”

Die lede is oorwegend bloedjonk en huiwer nie om te laat blyk na watter skole hulle gaan nie. Daar is byvoorbeeld ‘n laggende brunet van die Hoërskool Tuine, ‘n graad-tien-leerder van die Hoërskool Stellenberg en twee van die Hoërskool Durbanville.”

Ek gee ook die laaste woorde:

“Dit is egter toe dat ek wonder hoe positief ons werklik oor die toekoms van ons wye, droewe land moet wees. En of ons almal nie liewer kuberkapers moet word nie.

My slotsom? Huil, huil die geliefde land. “

(http://www.dieburger.com/Stories/Features/By/18.0.966198657.aspx)

Dié soort berigte (en ook berigte soos dié oor die debakel van die VGKSA se gay-debat, sien die berig “Boesak het sy plig versuim” met die oor-en-weer beskuldigings daarin, by:

http://www.dieburger.com/Stories/News/18.0.969335414.aspx) laat ‘n mens regtig besef dat ons nie triomfalisties moet wees oor die soort nuus wat die kerk maak nie.  Ook iets wat na goeie nuus klink, soos dié oor die groot opkoms by die charismatiese biskop TD Jakes se massa-byeenkoms, skep vrae oor hoe suksesvol die kerk is om rassisme te bestry en die evangelie in hierdie opsig te beliggaam:

Biskop van VSA preek in noorde

Die charismatiese biskop TD Jakes van die VSA het die naweek vir swart Suid-Afrikaanse Christene gedoen wat mnr. Angus Buchan vir hul wit broers en susters doen.  Volgens die organiseerders het meer het meer as 100 000 mense die naweek die MegaFest bygewoon wat die biskop van Dallas by die Nasrec Exposentrum net buite Soweto aangebied het.

 Soos daar op Loftus ‘n paar swart gesigte te sien was, het ‘n klompie wit gelowiges ook na die MegaFest opgeruk, maar die gehoor was oorwegend swart…

(http://www.dieburger.com/Stories/News/18.0.968897158.aspx)

Indien ek in die lig van hierdie slegte nuus oor die teks moet preek, sou ek die volgende punte wil maak:

  • ons roeping om die werk van geloof te doen, om onsself in te span vir die liefde, en om te volhard in die hoop is van lewensbelang juis in die lig van al die slegte nuus wat dreig om mense moedeloos te maak oor die toekoms van die kerk en lam te maak vir die moeite van egte versoening;
  • ons kan hierdie roeping net vervul in die lig daarvan dat ons teks ‘n dankgebed is vir wat God in die gemeente gedoen het (1:2), waarin die gemeente se geloof, hoop en liefde toegeskryf word aan die genade van God wat deur sy Woord en Gees die gemeente tot stand gebring het (1:4-5);
  • dat “moeilike omstandighede” daarom nie as verskoning vir lamheid en niksdoen kan dien nie, maar ons juis moet aanvoer tot meer werk, nuwe inspanning, groter volharding op grond van die Goeie Nuus wat God vir ons, in ons en deur ons maak.

 ‘n Stukkie goeie nuus om hierdie tweede gedagtes mee af te sluit – uit Die Landbouweekblad, nogal!
BOERE, GRONDLOSES STAAN SAAM
Landbouweekblad, (2008-09-19)

In ‘n ongewone stap het boere en grondeisers in een van KwaZulu-Natal (KZN) se brandpunt-gebiede besluit om die strydbyl te begrawe. Hulle vorm nou ‘n gesamentlike front teen die Departement van Grondsake.
“Ons het besef ons beskuldig mekaar die afgelope 14 jaar oor en weer van dinge wat nie waar is nie. Ons frustrasie is nie met mekaar nie, maar met ‘n stelsel wat die proses van grondhervorming vertraag,” het die Beweging vir Grondlose Mense (BGM) en die distrikslandbou-unie (DLU) Noordelike KwaZulu-Natal gesê. Mnr. Mangaliso Kubheka, nasionale organiseerder van die BGM, sê almal het besef hulle het mekaar beskuldig van goed wat nie waar is nie.
“Ons wil grond hê, die boere wil grond beskikbaar stel, maar die Departement van Grondsake het nie geld om dit te koop nie. Ons het besluit om boere die skuld te gee, gaan nie werk nie. Ons moet eerder ons probleem gesamentlik aanpak.”
Die versoening tussen dié groepe het deur die KwaZulu-Natalse Raad (KZNCC) van Kerke geskied. Ds. S. W. Scott, predikant van die Nederduits Gereformeerde Kerk in Newcastle en voorsitter van die KZN sinode se grondsakekomitee, sê die KZNCC het voorheen net na die grondloses se kant van die saak geluister.
Op sy aandrang is daar ook na boere se saak geluister en daar is besef dat die twee groep meer in gemeen het as wat mense dink. ‘n Ontmoeting is tussen die DLU en die BGM gereël. Kubheka, wat al aan haatspraak skuldig bevind is omdat hy gesê het die BGM sal kaders oplei om boere te vermoor, sê hy hoop dié versoening kan ‘n voorbeeld vir die hele land wees.
Mnr. Jannie Kemp, voorsitter van die DLU, sê in dié gebied is daar grondeise wat al jare sloer. Transaksies tussen boere en die departement word ná jare net nie afgehandel nie.
“Dit skep by almal frustrasie oor die verwagtinge en onsekerheid. Ons het nou besluit as iemand met die departement ‘n vergadering gereël kry, sal hy die ander party ook betrek.” – NICO VAN BURICK

Andries Cilliers