{ARGIEF}

In hierdie week se preekstudie doen Annes Nel uitstekende eksegese en bied hy vir ons ‘n baie bruikbare preekvoorstel – grootliks gebaseer op gedagtes uit sy boek, Gebed van Salomo. Ek bied graag enkele verdere gedagtes ter aktualisering van die tersaaklike teksgedeelte(s), nie soseer wat sy preekvoorstel betref nie.

Ons fokusteks, 1 Kon 3:3-14 sowel as een van die ander Leesroostertekste naamlik Ef 5:15-20, roep ons op om met wysheid op te tree. Om die beste gebruik te maak van elke geleentheid asook van die gawes wat vir ons gegee word. Paulus vermaan ons om nie onverstandig nie, maar verstandig te leef. Dit impliseer om volgens Gód se wil op te tree.

Salomo bid dat die Here aan hom die nodige gehoorsaamheid moet gee sodat hy God se volk reg sal regeer en in alles insig sal hê. God het dít goedgevind en gee vir Salomo toe nie net wysheid en insig soos niemand voor hom nie, maar belowe hom ook, in sy vrygewige genade, rykdom, aansien en ‘n lang lewe!

Die vraag is: op watter wyse sou hierdie tekste aandui wat God in óns dag as verstandig, getrou en gehoorsaam beskou? En sou dit strook met die diepere waardes waarvolgens ons ons samelewing inrig? Het die markplein nie maar die ware, die eintlike huis van aanbidding in ons moderne wêreld geword nie? Daar was stadiums wat dit die politiek en darem godsdiens ook was, maar vandag, is die ekonomie nie maar die god wat deur ons aanbid word nie? Die JSE? Die Dow Jones? Wall Street? Die gejaag na die magtige Pond, Euro en Dollar?

Maar God se reaksie op Salomo se gebed suggereer dat wysheid baie méér, en baie belangriker is as die verbysterende rykdomme van hierdie wêreld.

Hierdie twee gedeeltes uit die Woord, ondersteun deur Ps 34:9-14, een van die ander Leesroostertekste, gee vir ons ‘n goeie geleentheid om te fokus op die misplaaste prioriteite van ons moderne samelewing. ‘n Mantra volgens Robin Lostetter, wat ons maklik en dikwels rondgooi, maar nooit genoegsaam aanspreek, analiseer en regstel nie, in my eie woorde.

Hierdie twee gedeeltes in 1 Konings 3 en Efesiërs 5 stippel vir ons baie duidelik die pad van ‘n verstandige en gehoorsame leefwyse uit. En hoe wonderlik sou dit nie wees as meer mense, veral politici en ekonome, ja, selfs godsdienstiges, die hoofopskrifte van ons nuus kon haal oor ‘n lewe wat in lyn is met wat God van ons vra nie? Sonder om dit op vrome wyse uit te spel, mense wat doodgewoon in hul doen en late in God se weë wandel, sy beeld vergestalt en volgens sy gebooie optree nie.

Op die omslag van 20 Augustus se Rolling Stone verskyn ‘n interessante portret van die Amerikaanse president, Barack Obama, geskep deur die kunstenaar Shepard Fairey. Fairey, wat bekend staan as ‘n “guerilla street artist”, het ook Obama se ikoniese Hope verkiesingsveldtog-plakkaat ontwerp. Helen Kennedy van die New York Daily News sê dat Fairey se nuwe portret van Obama, enersyds die president vergoddellik en andersyds bevraagteken. Alhoewel ek self nie die omslag gesien het nie, herinner die vergoddeliking van die president op hierdie omslag blykbaar sterk aan Fairey se skets van die Laaste Avondmaal verlede Desember, toe hy Obama in die middel van die dissipels, in die plek van Jesus, geplaas het. Herinner dit nie sterk aan SA waar mense ons nuwe president in die onlangse verlede met Jesus Christus vergelyk het nie?!

Maar goed, in plaas daarvan om Obama en ander politieke figure op ‘n goddelike “pedestal” te plaas – wat ‘n riskante oefening! – kom ons begewe ons eerder op “veiliger” en dalk meer “kleurryke” grond. Kom ons kyk vir ‘n oomblik na ‘n klomp mense in ons samelewing wat, ek dink, net mooi die teenoorgestelde van ‘n wyse, verstandige lewe vergestalt. Ons kapitalistiese gemeenskap – wie se waardes hulle toelaat, meer nog, dryf om geweldige hoeveelhede rykdom te versamel! Dít, tesame met hul sogenaamde “doeltreffende” aanwending van bronne, en daar is talle voorbeelde waarna ons kan verwys, smeek vir kritiese beoordeling.

Watter sosiale voordele, asook morele regverdiging, vra Robin Lostetter, spruit uit ‘n handelaar in Amerika wat ‘n bonus van $100 miljoen ontvang? Teenoor ‘n stedelike onderwyser wat sy/haar lewe gee vir ‘n “skamele” salaris van $50 – $60 000 per jaar?

Ons moet versigtig wees om die opregtheid, die eerlikheid, die goedbedoeldheid, die “imagio dei” van mense soos onderwysers en verpleegsters – en daar is baie ander – te respekteer, maar die buitengewoon kwistige leefwyse van sommige sport- en vermaaklikheidsterre, asook uitvoerende amptenare van groot maatskappye en politici, onaangeroer te laat! Dít mag nie!

Sulke onverstandige optrede deur super-rykes en mense met toegang tot groot hoeveelhede geld, het met méér as net individuele keuses te doen. Die feit dat hulle daarmee wegkom, wys op die skeefgetrekte prioriteite van ‘n samelewing wat van sulke mense dikwels ikone, helde en “vaderfigure” maak, wat nageleef moet word, ongeag hul morele onderbou.

As individue, maar ook as ‘n samelewing, beskadig en verdraai ons God se beeld as ons onverstandig met rykdom omgaan, maar óók as ons stil bly. Dikwels is ons as kerkmense in beide opsigte skuldig! Ons word egter opgeroep om werklik te leer onderskei tussen reg en verkeerd, goed en sleg, en te bid dat God ons “op ‘n meer uitnemende weg” sal lei.

Kom ons gaan doen dit!

Chris Jones

 

Seisoen van Luister PowerPoint