{ARGIEF}

Sondag 1 November 2009 – Hebreërs 9:11-14 

Daar is tye wat ‘n mens net so moeg is van kerk hou as die gemeente vir wie die Hebreërbrief geskryf is. Moeg vir die kerkdienste waar goed maar al te dikwels skeef loop; waar die preek te lank óf te oninteressant óf vol van uiterlike vertoon maar min substansie is; waar party lidmate die ou liedere nie kan sing nie, en ander weer niks van die nuwes hou nie wat nog half vreemd op die oor val; waar ons Bybelstudies, jeuggeleenthede, en kermisse hou en soos gewoonlik daag net die gereelde handjievol getroue siele op.

In sulke tye wanneer ons diepmoeg is van kerk hou, kan ons dalk assossieer met wat Annie Dillard beskryf in haar verhaal “An Expedition to the Pole,” naamlik dat eredienste partykeer ‘n sirkus is waar ons, die gelowiges, soos dansende bere aangetrek is en in ons beste klere op twee pote ronddans. Sy skryf:
“A high school stage play is more polished than this service we have been rehearsing since year one. In two thousand years, we have not worked out the kinks. We positively glorify them. Week after week, we witness the same miracle, that God is so mighty he can stifle his own laughter. Week after week, we witness the same miracle: that God, for reasons unfathomable refrains from blowing our dancing bear act to smithereens” (p 234).

In so ‘n konteks, dien die Hebreërsteks as ‘n herinnering van die perfekte, ewige heiligdom wat aan moeë Christene ‘n welverdiende sabbatsrus bied. Wanneer ons moeg raak van ons soms patetiese, dog eerlike pogings om God en mekaar te dien, kan ons hier waar ons saam vergader is in die erediens heenwys na die hemelse erediens eendag waar ons godsdienstige rituele nie meer nodig sal wees om God se teenwoordigheid in ons midde te bewerkstellig nie; waar ons self by God sal wees; waar ons, soos Tom Long dit in sy Hebreërskommentaar stel, weggevoer sal word “into a sanctuary that will not decay to join in a fellowship that will not perish and sing hymns of praise that will not cease to a God whose mercy is everlasting” (p 97). Dan gebeur die wonderwerk dat ons anders na ons eredienste en na mekaar kyk; dat ons mekaar raaksien deur die oë van ‘n genadige, lankmoedige God met, ja, ‘n sin vir humor …

Juliana Claassens