{ARGIEF}

Sondag 8 November 2009 – Hebreërs 9:24 – 28

 Sondag na Sondag bely Christene reg oor die wêreld die groot geheimenis van ons geloof – in die woorde van die Presbyteriaanse kerk: “Christ has died. Christ has risen. Christ will come again. Alleluia.” Hierdie belydenis vorm die grondslag van ons hoop vir die gebroke wêreld waarin ons onsself bevind; waar ons onsself al te gereeld tromp-op loop teen die terugslae en die mislukkinge van die daaglikse lewe.

In hierdie belydenis, wat ook die sentrale boodskap van die Hebreërsteks vir vandag vorm, bely ons dat ons glo in Christus wat die wêreld van sonde kom verlos het; in Christus wat weer kom – soos die ou Halleluja lied dit so mooi gesê het: “As Hy weer kom, kom haal hy sy pêrels…” Vir mense wat moedeloos is oor die wêreld rondom hulle, is die belydenis dat Christus reeds die oorwinning behaal het en weer kom om sy vredesryk op aarde te vestig inderdaad ‘n boodskap van hoop. In ‘n konteks waar misverstande tussen mense op persoonlike vlak, tussen kerke, en om nie eens te praat van politieke vlak ‘n mens radeloos laat; waar geweld lewens verwoes; waar armoede en HIV-AIDS se impak om die gemeenskap en indiwidue se lewens ‘n verlammende effek het, is hierdie belydenis iets om aan vas te hou.

In dié verband, bied die skrywer van die Hebreërsbrief se minitoertjie met betrekking tot die diepste geheimenisse van die hemel aan ons ‘n broodnodige perspektief op ons alledaagse situasies van uitsigloosheid, konflik en misverstand. Dit vertel vir ons dat die verlossing in Christus reeds bewerkstellig is; dat ons vir eens en vir altyd vergewe is. En omdat ons vergewe is kan ons ook ander vergewe wat verreikende implikasies het vir hoe ons van dag tot dag leef. Na ons hemelse toer kom ons anders terug, leef ons reeds as bevrydenes. Hierdie denkverandering maak dat ons ook anders praat en dink oor die uitdagings van vandag op ekonomiese, sosiale, politieke en godsdienstige gebied. Dit maak dat ek anders praat en dink oor my verhouding met my man of vrou, my kind of ouers of vriende; oor die politici wat ons kwaad maak; oor die ekonomie wat ons wurg; oor die kerke se eindelose gevegte oor die sake wat mede broers en susters van mekaar vervreem. Christus het gesterf. Christus het opgestaan. Christus kom weer. Halleluja!

Julie Claassens, ’n geordende Predikant in die Presbiteriaanse Kerk (VSA) gee ’n deel van die jaar klas in Ou Testament by Wesley Theological Seminary, Washington DC. Die res van die tyd woon sy op Stellenbosch van waar sy via die internet klasgee vir Wesley asook Buitegewone Besoekende Mede Professor in die Departement Ou en Nuwe Testament by die Universiteit van Stellenbosch is. Sy is die skrywer van boeke soos The God who Provides: Biblical Images of Divine Nourishment (Abingdon, 2004) en mees onlangs, ’n Groter God: Nuut Gedink oor God Vandag (Lux Verbi, 2009).

Seisoen van Luister Powerpoint