{ARGIEF}

Vierde Sondag in Epifanie :  31 Januarie 2010 ~ Lukas 4:21-30




Jesus neem die wraakgedagtes van mense weg en dra die straf self (Lukas 4: 21 – 30)

Dis nie ek wat hier help grawe nie. Dit is die hand van God, wat lief is vir die lewe – Jeanwell Antoine wat met sy kaal hande ‘n huilende baba onder ‘n hoop rommel uitgegrawe het (uit Uurglas loop leeg vir Haïti-oorlewendes wat vasgekeer word, Die Burger, 15.1.2010).

Die aardbewing in Haïti is ‘n gelykmaker. Dit het nie onderskeid onder mense gemaak nie. Die evangelie maak ook nie onderskeid nie, met die verskil dis konstruktief, dis helend en herstellend. Dit laat my aan Petrus dink, hy wat ‘n pad saam met Jesus gestap het; een van die eerstes wat Jesus as Messias erken het; het steeds nie begryp dat Jesus se lewe en bediening ruimte vir almal maak nie. Hy wat op Pinksterdag die Gees as gawe ontvang het, het nog nie die nuwe geslag mense waaraan hy behoort aanvaar nie. Eers, na alles wat met hom gebeur het, sy ontmoeting met Kornelius, roep hy uit: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie sekere mense bo ander voortrek nie” (Handelinge 10:34).

Christus het die mure wat ons van ander skei soos die kleur van ons vel, die taal wat ons praat, ons agtergronde, die werk wat ons doen of nie het nie, die geslag waaraan ons behoort, afgebreek (Ef. 2:13-22).

Die e-pos foto van ‘n puinhoop in Haïti hieronder illustreer vir my iets van Christus se genade en liefde wat bly staan, al val alles bekend aan my inmekaar.

Terug na die teks vir Sondag. Jesus se bevrydende boodskap word met verbasing ontvang, maar tog verwerp. Jesus het nie Jesaja 61 vers 2 gelees nie. Jesus die bevryder laat die wraakgedagtes uit. En toe Hy beweer dat nie-Jode groter ruimte vir God se genade het, was dit net een te veel vir die apartheid gesinde tempel gangers. Dat God reg aan almal geskied, het hul woedend gemaak. Jesus se boodskap beteken ‘n totale ommeswaai, ‘n ander manier na die wêreld kyk. Hiervoor het hulle nie kans gesien nie.  Jesus se goeie nuus aan die armes, die evangelie van bevryding word verwerp, omdat hulle nie glo dat hulle teenoor dié ander genade moet betoon nie.

Jesus se bevryding vra van sy volgelinge die keuse om totale navolging. Ons  moet staan waar God staan: Omdat Hy die bron van reg is, staan Hy in situasies van onreg by die verontregtes. Dis hoe God in sy grootheid besing word (Ps 146); en dis hoe Jesus sy roeping uitstippel. As navolgers van Jesus, as mense in diens van God (Rom 6:13), is die kerk geroep om die genadejaar, die hersteljaar, te help waarmaak (vergelyk Belydenis van Belhar).

Die Ou en die Nuwe Testament getuig van God se ontferming aan die minderbevoorregtes, randfigure en uitgeworpenes. As ons dit miskyk, mis ons God se sending van genade.

Maghebbers en rykes word deur Jesus se boodskap aangegryp, hulle toon genade teenoor armes en steek ‘n hand van deernis en geregtigheid uit na die slagoffers van onreg. Jesus se evangelie bring ‘n boodskap van hoop en bevryding aan almal, veral die mense anders as ons!

Jesus se intree preek eindig nie met die seën nie, maar met klippe. “Die heerlike is natuurlik dat die Messias nie die Skrifte verander het nie! Nee, Hy het die straf slegs vir die mens uitgelaat, omdat Hy dit self sou dra. Lukas 4 vra dus vir ons die gróót vraag: Is ek reeds ‘n genademens, of wil ek nog hoor van God se straf wat ek slegs vir ánder reserveer?” (Murray Janson).

Begryp ons werklik en aanvaar ons ten volle dat ons geloof in Christus die enigste voorwaarde is om deel van Sy gemeente te wees?

Seisoen van Luister PowerPoint

Geen verdere preekriglyne in die argief nie.