{ARGIEF}

Die profeet Miga sien onreg, lyding en onderdrukking (Philander). Hy droom van shalom, dis omvattend en gaan oor die welwese en heel-wees van die gemeenskap (Westermann) – ’n nuwe toekoms wat die Here bring deur ’n koning wat goed regeer. Jesus is vir ons die goeie maar alternatiewe koning wat “op die regte tyd verskyn het” (Galasiërs 4:4). Hy is God wat uit ’n nederige menslike agtergrond koning kom word en nie anders kan as om ’n anderste koninkryk te kom stig nie. Maria se loflied (Lukas 1:46-55) druk dié koninkryk wat met Kersfees kom, treffend uit. Sy besing God se grootheid en juig oor die Verlosser omdat God na haar in haar geringheid omgesien het. Sy loof God se magsdade wat ten behoewe van die geringes en die behoeftiges is. God kom toon sy besondere genade aan ellendiges, lydendes, armes, hulpeloses, en desperates. God word in Jesus sigbaar as mens wat die geringstes sy broers en susters noem (Matteus 25).

Die koningskap van Jesus kom die duidelikste na vore in sy kerk (Pieter Potgieter, in CKE). Tussen kerk en koninkryk bestaan daar geen identiteit nie, wel die allernouste verband (Jaap Furstenberg in CKE). Die kerk moet ook kerk van die koninkryk van God wees (Nico Koopman). Jesus lei ons volgens God se koninkrykwaardes. Dit verskil hemelsbreed van die heersende waardes van eersug en hebsug, wat soveel Suid-Afrikaners se sin van reg en verkeerd bepaal en selfs die stem van hul gewete word. Dit kan ’n dryfkrag tot onreg word, ’n mag wees wat enigiets sal doen, die wet oortree en lewens vertrap en vernietig solank die ideaal bereik word.

Die kerk as volgelinge van Christus staan waar Hy staan, naamlik teen ongeregtigheid en by die verontregtes. Gelowiges getuig teenoor alle magtiges en bevoorregtes wat uit selfsug hulle eie belang soek en oor andere beskik en hulle benadeel (Bybelse gedeeltes soos in die Belydenis van Belhar vewoord). Ons is kerk vir alle mense wat deernis toon en konkrete welsyn bevorder.

Die ellende, lyding, armoede, hulpeloosheid kan anders lyk, omdat God sigbaar deur ons lewens, veral in dié omstandighede, word. Miga se droom van welwese en heel-wees het met Kersfees begin, word deur die Heilige Gees in ons voortgesit – so stuk-stuk sigbaar – ‘n onvoltooide realiteit. Eers met Christus se wederkoms word God se koninkryk van welwese en heel-wees volkome bereik.

Pieter van Niekerk

Seisoen van Luister Powerpoint

Verdere Preekriglyne in argief