{ARGIEF}

Sondag 26 Julie 2009

Lina Hoffmann het sulke ordentlike eksegese oor die gedeelte gedoen. Die eksegese en agtergrond wat sy van die verhaal gee, maak mens se verbeelding dus in  baie rigtings vir die oorvertel/prediking oop.

Wat my in die verhaal in die hart raakgevat het, is die volgende:

  • Die storie sit ons voor ons dit weet, reg voor Jesus. Die hele Bybel is mos eintlik maar ‘n Jesus-storie.  Maar dit is nie ‘n “pie-in-the-sky”, “liewe Jesus” nie.  Hy verskyn in die verhaal sommer dadelik binne-in die wêreld; ons eie wêreld, hier en nou! 
  • Die verhaal in Joh 6 sê dis die wêreld van Tiberias [sien Lina se eksegese]. Dit is ‘n plek/omgewing van die dood/duisternis. Dis ‘n plek waar “goeie mense”  eintlik nie kom nie; hulle hoort nie tussen die dode; onreine; die bose nie. By dit alles word Jesus in hierdie bose plek omring deur ‘n skare. Hulle is in hierdie bose plek ook nog die onreines, die armes, die randfigure/verstotelinge [Sien weer eens Lina se verwysing na onder meer “garsbrode”].
  • Maar dis juis in hierdie bose omgewing, met sy onrein/bose mense dat Paasfees [vers 4] aanbreek!  Die Fees wat Johannes se “gemeente van uitgebandes”, met  hulle Joodse geskiedenis agter hulle [kyk weer na die agtergrond wat Lina gee]”, herinner aan God se wonderbaarlike redding uit die diepste nood en ellende denkbaar [Egipte].
  • Ons moet saam met Johannes se eerste hoorders hoor: Só ‘n dooie plek,  is juis hierdie Jesus se werksterrein. Hy is voorwaar die Lig wat in die duisternis inskyn en dit verdrywe en die duisternis kan dit nie oorweldig nie [Joh 1].  Hy gee juis hier in die plek van die dode, tussen die bose geeste, te midde van die vuilheid/onreinheid, waar ons dit die minste sal verwag, lewensbrood vir stukkende/onrein mense. Juis hier omskep Hy doodsheid in regte lewe/Koninkrykslewe!
  • En Hy gee soveel meer as Moses se manna-brood- en kwartelvleis-lewe [Sien weer eens Lina se eksegese]. Hy gee wonderbaarlik brood en vleis/vis in oorvloed.  Woestyn-manna in oorvloed, word vrot.  Jesus se “manna-brood”  is “soveel as wat hulle wou hê” [vers 11]. Dis ook meer as die manna in die woestyn. Dis brood in oorvloed tussen baie gras [vers 10]. Hy omskep die plek van die bose, vir die mense van die bose; die uitgebandes/verstotelinge,  in ‘n lushof vol groen gras –  ‘n paradys?
  • En hoe sal mens hierdie Jesus van Nasaret ooit in jou bose-nood kan glo?  Die verhaal sê/verkondig: Hy is nie maar net Jesus van Nasaret hierdie nie. Hy is God Self, wat in die wêreld gekom het. Die Woord wat vlees geword het. Hy is God wat Goddelike dinge doen [Vgl Job 9:8 en 38:16];  Hy loop op see-water. Hy loop op die onstuimige/gevaarlike/gevreesde “Yam”, die see-god wat een en almal vreeslik maklik insluk. Hy is Jahwe van Eks 3; “Ek is” [vers 20].
  • Die Jesus-verhaal is egter persoonlik. Dis ons eie storie. God se verskyning in Tiberias is nie informasie-materiaal nie. Die verhaal vra byna onwillekeurig aan elkeen wat luister: Glo ons/jy hierdie Jesus?  Sy verskyning in Tiberias, met sy skare onreines; sy verskyning in die duisternis, dwing altyd ‘n beslissing op een of ander manier af [vgl 9:39].
  • Die skare wat wonderbaarlik met die ware Lewensbrood [Nagmaalsbrood] gevoed is, en dit in oorvloed,  glo Hom [vers 14]. Dis inderdaad hulle beslissing in Tiberias. Maar glo hulle Hom regtig? Ken hulle hierdie Jesus regtig? Wat lê agter hulle geloof? Gee hierdie Jesus vir hulle ware, volhoubare lewenshoop?  Die storie sê: Hulle wou Hom dan en daar, met geweld Koning maak. Dit klink so goed, só vroom.  Maar vreemd, Jesus het hiervoor gevlug! So laat Hy Hom nie in hulle greep kry nie! Hoe kan dit wees? En skielik kyk die verhaal ons vars, onverwags, maar vierkantig in die gesig!
  • Die skare glo in ‘n magsfiguur, soos Koning Dawid. Iemand wat Israel weer in sy glorie sou herstel. Daarom moes Jesus gekroon word. Johannes se eerste christen-luisteraars,  met hulle Joodse agtergrond, so magteloos uitgeban/verstote … is dit ook wat hulle wou hoor/sien/ervaar?  Só vra die verhaal lastige vrae! Ons almal hou van ’n mags-god. Maar dis ‘n afgod wat niks beteken nie!  Ons vrek almal oor mag en om in beheer te wees/te voel; in Jesus se tyd, in Johannes se tyd, in ons eie tyd. Maar dis nie geloof nie! 
  • En die dissipels? Jesus se naby volgelinge? Wat is hulle beslissing oor Jesus?  Jesus op die water, maak hulle bang. Was Jesus dalk vir hulle ‘n spook op die water, soos die ander evangeliste vertel? Ek kan nie help om in vers 21, toe hulle Hom uiteindelik in die skuit toegelaat het, hulle huiwering oor Jesus te hoor nie. 
  • Die verhaal se einde, mense se respons op Jesus, in hierdie verhaal, is lastig. Om hierdie Jesus te glo, wat die omstandighede ook al mag wees, is nie so eenvoudig nie. Ons weet dat Hy na sy eie mense gekom het, maar dat hulle die duisternis liewer gehad het as die Lig. So begin die Johannes verhaal mos. Ons weet ook dat hierdie verhaal vertel dat Jesus die Christus, die Seun van God is, en deur in Hom te glo, ware lewe vir alle mense gewaarborg is; vir onrein skares, en vir dissipels [20:30]. Maar glo óns Hom regtig vir Wie Hy is? Veral as ons ontdek dat sy Koningskap, sy mag so heeltemal vreemd is. Só vreemd soos sy magteloosheid aan die Kruis. En wat nog, as Hy ons saam met Hom op dié kruispad vat?  Miskien is dit van pas om in respons op die verhaal te bid: “Heer, wees ons genadig, Heer wees ons genadig. Ons glo U. Ons kan  nie anders nie. Kom asseblief ons ongeloof te hulp”!

Martin Heyns

Seisoen van Luister Powerpoint
Geen verdere Preekriglyne oor Joh 6:1-21 in Argief