{ARGIEF}

6de Sondag in Koninkrykstyd – Sondag 19 Julie 2009

Hoewel die Common Lectionary die gedeelte vir hierdie week anders afbaken, behoort ons maar liewer na die hele verhaal [6:30-56] te luister.

* Markus se manier van skryf ‘dwing’ ons aandag [harte] om Jesus in aksie raak te ‘sien’.  Dit is soos dit in elke geval hoort. Ons leef mos uit wat Hy doen. Hierdie Sabbat/Sondag wanneer ons die gedeelte op baie plekke en maniere gaan vier, is juis vir ons gegee sodat ons ophou met ons doen, sodat ons regtig weer kan ‘raaksien’ wat God doen.

* Markus se Godstorie laat ons ‘n paar dinge, waar God in Jesus aan’t werk is, ‘sien’. En Markus beskryf hierdie spesifieke werke van God met die beeld van ‘n herder wat sy skape versorg.

  •  Jesus sien om na sy volgelinge. Hy is sensitief; Hy sien iewers in hulle oë dat hulle moeg is na hulle sending [6:7]. Daarom vat Hy hulle na ‘n plek van rus. Hy is inderdaad die Goeie Herder wat sy skape wil laat lewe.
  • Die nood van mense in die samelewing is egter onuithoudbaar groot. Dit dring hulle om selfs Jesus en sy dissipels se stilword-plek uit te snuffel. En as Jesus dit sien, kom sy hele binneste in beroering; sy maag draai; Hy word dalk selfs naar van jammerte [innig jammer, vers 34]. Hy ís die Barmhartige.
  • Jesus se jammerte kry praktiese gestalte. Sy hart en daad is altyd een. Hy versorg die mense se nood prakties met Woord en Brood [vers 34b en 35-44]. Sy Woorde [leringe] omskep hulle nood, in nuwe lewe. Die chaos van hulle nood, is en was nog altyd God se skeppingsterrein. Hy ‘praat’ net, en dit is daar, net soos in Genesis 1. Maar die Herder breek ook die lewensbrood. Sy versorging is holisties. [Sien Natie Philander in die preekstudie]. God omskep stukkendheid; verstrooidheid; eensaamheid; verlorenheid sonder ‘n herder, in nuwe lewe,  deur Woord en Sakrament. Dis hoe die opgewekte Here vandag nog werk. Dis hoe Hy in ons eie nood werklik helend teenwoordig is. Hy neem dit wat ons is en het – net soos ons is; onvoorwaardelik in sy Hande; dan seën Hy dit—neem alles op in die wêreld van die Drie-enige God; dan breek Hy dit, ook al die skyn maskers wat ons voorhou; en dan gee Hy dit vir ons heel terug om ons [dit] ook verder te gaan uitgee in ‘n stukkende wêreld. En só verskyn Hy kragtig, verrassend, net soos in die opstandingsverhale by die maaltye.
  • En almal wat die Godstorie verder volg, ‘oortuig’ Hy met sy grootheid:  Geen nood is vir Hom te groot om in nuwe lewe te omskep nie. Hy is nie sommer nog maar enige herder vir sy skape nie. Hy is die ware Herder. Hy is God Self!  In verse 45-52 skryf Markus fyn: Van die berg af [plek van die Godsverskyning] sien Jesus [goddelik] in die pikdonker nag wat op die see aangaan en Hy loop [goddelik] op water [Vgl Job 9:8 en 38:16] en maak Hy homself bekend as ‘dit is Ek’, “Jaweh” [Eks 3:14]. Jesus is God aan’t werk; wonderbaarlik, verrassend, altyd nuut; ver bo mense rede.

* Markus maak ‘n punt daarvan om in sy hele verhaal oor Jesus, ook vir ons te vertel wat mense nou met hierdie Jesus-God en sy werke maak. Ek dink ons moet die ritme raaksien.

  •  Aan die einde van vyf  groot ‘hoofstukke in sy verhaal oor Jesus:  1:1-3:6;  3:7-6:6;  6:7-8:21;  8:22-10:52 en 11-16:8,  is dit een refrein: Alle mense: kerkmense, sy eie familie-mense;  sy dissipel-kring; en uiteindelik ook die getrouste volgelinge, die vroue – almal van hulle, glo Hom nie!  Hulle verstaan Hom nie. Hulle volg Hom nie na nie. Hulle verset hulle.
  • In die hoofstukke waarin Markus 6 val, sien hulle nie kans nie; is alles te veel gevra; lyk alles onmoontlik; het hulle eenvoudig nie begrip vir wie Hy regtig vir hulle is nie; moet Hy uiteindelik [dalk half moedeloos] vra: “Verstaan julle dan nog nie?” [8:21]
  • Markus wil, lyk my,  vir mense van alle tye sê: Luister! So is mense!  Alle soorte mense, van alle tye. En dan die konsekwensie: As ons Hom nie kan glo nie; ook sogenaamde goeie kerkmense [selfs dissipels], hoe sal ons ooit die nood van die wêreld in Hom kan aanspreek. Al wat mense gewoonlik dan doen, is om ‘n selfgemaakte ‘social-gospel’, gewoonlik op skuldige gewetens gebou, te ontwerp. ‘n Mens-gemaakte uitvindsel wat een of ander tyd kragteloos; nie volhoubaar nie, in die sand verdwyn en meermale oor die lang termyn, meer skade aan mense berokken as goed doen.

* Is dit regtig al wat Markus van Jesus se werke vertel?  Nee! Nooit nie! Die einde van die verhaal verse 53-56 is die beste, Goeie Nuus: Jesus hou nie op om nuwe lewe [sy Koninkryk] te midde van die grootste nood [verse 55-56] te bring nie en Hy hou nie op om sy dissipels met Hom in die proses saam te vat nie. Hy raak nie met hulle moedeloos nie; Hy skryf hulle nie oor hulle traagheid af nie; hulle is en bly immers sy eie skape!  In-Hom-saamgevat [hieroor sal ons dieper moet luister] oorwin Hy inderdaad die diepste nood in die verhaal; hier en nou en vir alle tye. Ons moet Hom hiervoor op sy Woord vat! En niks is uit beheer nie; Hy ‘panic’ nie, selfs al lyk dinge vir ons hoe verskriklik sleg. Ons hoef nie angstig te raak nie. Sy koninkrykswerke is deur die eeue aan die gang; lank voordat ons bekommerd begin raak het. En niks kan Hom keer nie. Hy is regtig die enigste, Goeie Herder om met ons hele lewe te vertrou. En Hy vat mense nog altyd op sy tyd en op sy unieke manier met Hom saam; gewoonlik waar ons die meeste van die tyd nie wil wees nie. Sy Goeie Nuus is nooit goedkoop nie.

Martin Heyns

Seisoen van Luister Powerpoint